"Maak jou voet skaars in jou naaste se huis,
sodat hy nie versadig word vir jou,
en jou haat nie"
(Spr 25:17)
Dit is menslik om 'n "persoonlike spasie" te hê.
As iemand daardie spasie ongenooid,
en te gereeld,
binnedring,
dan voel ons ongemaklik en verontreg.
Die algemene raad
is dat ons duidelike en onbuigbare grense moet hê.
Die probleem hiermee is dat dit ons ongenaakbare
en harde mense kan maak.
Mense kan maklik hulleself stukkend stamp
aan die harde mure wat ons om onsself bou.
Hoe kan ons gesonde grense hê,
sonder om mure om onsself te bou?
Die Here Jesus is ons voorbeeld hierin.
Hoeveel keer het mense nie Sy grense oortree nie:
Mense wat sommer die dak oopbreek
en 'n siek persoon voor sy voete sit;
'n onrein vrou wat hom aan die kleed trek,
terwyl hy haastig op pad is om iemand se lewe te red;
'n Sondige en verwerplike vrou wat inbars
terwyl Jesus eet saam belangrike en gesiene mense,
en dan sommer begin om met haar trane sy voete te was.
Ouers wat sommer hulle kinders na Jesus bring,
dat hy hulle moet seën,
al sien hulle hoe besig Hy is.
Nie een keer het Jesus hulle weggewys nie.
Elke keer het Hy hulle nood raakgesien.
Elke keer het hy hulle in sy persoonlike spasie toegelaat.
En tog lees ons keer-op-keer waar Jesus Homself afsonder.
Markus 1:35 vertel van 'n keer wat Jesus
net alleen wou wees en bid.
Petrus kom toe ontsteld na Jesus en sê:
"daar is nog mense wat genesing nodig het
en wat wonderwerke wil sien"
Maar Jesus antwoord hom:
"Laat ons êrens anders heen gaan,
na die volgende dorpe,
sodat ek ook daar kan preek,
want hierom het ek gekom."
(Markus 1:38)
Jesus hét grense gehad,
maar dit was 'n lyn wat Hy in die sand getrek het,
nie doringdraad wat Hy om Homself gespan het nie.
Ashton