"Maar sonder jou intensionele besluit,
wou ek niks doen nie,
sodat jou goeie daad
nie uit dwang sou wees nie,
maar uit vrye wil"
(Filémon 14)

Paulus vind homself alweer in boeie.
Tot sy verbasing kom daar 'n slaaf na hom.
Hierdie slaaf het weggehardloop van sy eienaar in Kolosse.
Die straf daarvoor was
óf dat die slaaf permanent in boeie moes wees,
soos Paulus,
óf dat die slaaf gekruisig word,
soos Christus.

Die slaaf neem 'n intensionele besluit,
om nie meer weg te hardloop nie,
maar om diensbaar te wees,
soos daar van 'n goeie slaaf verwag is.
Hy word 'n Christen,
en help Paulus in sy bediening.

Sy eienaar, Filémon, het vroeër ook 'n Christen geword.
Filémon is alombekend vir sy liefde
en toewyding aan die Christelike geloof.
Hy sou nooit droom om sy broer en slaaf in Christus,
oor te gee aan die owerhede
om wreed gestraf te word nie.
Paulus weet hy sal met liefde die slaaf toelaat
om saam met Paulus rond te reis.
Hy kan eintlik net vir hom 'n brief skryf en sê:
"so terloops, ek het jou slaaf gekry,
hy is nou 'n Christen,
hy werk nou saam met my".

Maar Paulus stuur die slaaf terug na sy eienaar,
hy gee Filémon 'n keuse,
'n vrye keuse:
hy kan hom as slaaf aanhou,
of
hy kan kom laat straf,
of
hy kan hom terugstuur na Paulus,
sodat hy diensbaar vir die Here kan wees.

Paulus weet dat geen daad 'n goeie daad kan wees,
as 'n mens dit nie intensioneel en vrylik doen nie.
Die Evangelie kan nie by mense se kele afforseer word nie.

Hoewel die Here ons deur elke besluit lei,
en ons altyd op ons pad bewaar -
plaas Hy dikwels keuses op ons pad,
keuses wat Hy nie namens ons gaan maak nie.
Dan moet ons intensioneel besluit
om te doen wat goed is!

Ashton