"Seun van 'n mens,
hierdie bene is die hele huis van Israel,
kyk hulle sê:
'verdroog is die bene,
ons hoop vergaan,
ons is verlore!"
(Eseg 37:10)

Hoop vergaan
en 'n gees van moedeloosheid heers.
Die volk is al moeg gehoop,
konings het gekom en gegaan,
alliansies met Egipte en ander volke het misluk.
Die land is verwoes,
die volk is weggevoer,
hulle mag nooit weer hulle huise sien nie.
Al wat nou oorbly is dat hulle hul lot aanvaar.

En dan sê God:
Met Hom is daar nie iets soos verlore hoop nie.
Selfs aan dooie bene,
kan Hy weer lewe gee.
Self al verloor ons hoop,
sal Hy weer vir ons rede gee om te hoop!

Josef was deur sy broers as slaaf verkoop,
en toe word hy onder-koning.
Moses se ma moes haar kind in 'n mandjie wegstuur op die rivier,
toe word hy groot in die Farao se paleis.
Rut verlaat haar land, na haar man se dood,
en trou met Boas,
en word die voorouer van ons Here!

Meer as 'n honderd jaar terug,
was ons land ook verwoes,
plase was afgebrand,
en mense was weggevoer.
En die land is herbou!
Dit het nuwe lewe gekry.
Beter as die vorige!

Dit alles gebeur,
want al sterf alle hoop in ons,
bly God steeds in beheer.
God beplan vir ons 'n toekoms,
'n voorspoedige toekoms.
Ook in hierdie land van ons!

Ashton