"En laat ons op mekaar let:
tot die aansporing van liefde
en goeie werke
deur nie ons samekomste
af te skeep nie,
(soos gewoonte van sommiges is),
maar deur mekaar aan te moedig,
des te meer julle sien dat die dag nader kom."
(Heb 10:24-25)
Christene kom al van die eerste eeu af
elke Sondag bymekaar
om die Here saam te aanbid.
Die rede waarom ons dit doen,
verskil egter radikaal van die vroegste kerk.
Sommiges meen kerkbywoning is daar om
"kos vir die siel te kry".
Ander gaan kerk toe om as 'n vooraanstaande lid
van die samelewing geag te word.
Ander doen dit net omdat hulle skuldig voel
as hulle nie kerk toe gaan nie.
Ons vergeet al te dikwels dat "kerk toe gaan",
nie dieselfde is as
"preek luister" of "aanbid" nie.
Dit gebeur ook tydens 'n samekoms,
maar ons kan dit sommer by die huis doen.
"Kerk", beteken 'n versameling van gelowiges.
Om kerk toe te gaan,
is om na ander gelowiges toe te gaan.
Die doel is om deur ons medegelowiges aangespoor te word
tot geloof, hoop en liefde!
Wanneer ons sien hoe baie 'n tannie by die kerk
omgee vir ons,
wil ons ook vir ander omgee.
Wanneer ons sien hoe 'n klein dogtertjie diensbaar is,
deur blomme by die deur uit te deel,
wil ons ook diensbaar word.
Wanneer ons sien hoe 'n broer
wat deur 'n hartseer tyd gaan
troos vind in sy geloof,
word ons eie geloof versterk.
Wanneer ons sien hoe die banke om ons gevul word
met mense wat dieselfde hoop in die Here as ons het,
word ons eie hoop hernu!
Wanneer ons by die kerk vergader,
werk die Here tussen ons.
Dan is ons
by mekaar,
vir mekaar.
Ashton