"Yster word met yster skerp gemaak;
net so maak 'n man die karakter van sy naaste skerp"
(Spr 27:17)

Daar is 'n ou Joodse gebruik,
wat gebaseer is op hierdie spreuk:
Studente van die Wet van Moses,
sal mekaar die heeltyd uitdaag met vrae oor die wet,
en so mekaar se kennis inskerp.

Top skaakspelers vra ander spelers voortdurend
om hul spel te kritiseer.
Akademici stuur hul artikels na mede-navorsers,
om gate in hul argumente uit te wys.
Teologie-studente leer om te preek,
deur weekliks na mekaar se preke te luister,
en kritiek daarop te lewer.

Yster raak nie uit dit self skerp nie.
Dit moet met ander yster bots.
Daar móét vonke wees!

Ons Christelike karakter werk ook so!
Dit moet ingeskerp word!
Hiervoor het ons ons mede-gelowiges.
Gelowiges wat ons verantwoordbaar kan hou.
Hulle wys ons daarop wanneer ons onchristelik optree,
wanneer ons gemaksugtig raak,
en nie meer groei in ons geloof nie.
Deur hierdie mense kry ons 'n nuwe perspektief -
'n dieper en breër siening van die wêreld.

Dit beteken nie ons oordeel mekaar nie!
Dit is eerder soos atlete wat saam oefen -
hulle inspireer mekaar om te hou by hul oefen-program,
om gesond te eet.

Dis ook nie sommer enigiemand wat ons karakter kan slyp nie.
Dit moet iemand wees wat ons vertrou,
wat ons belange op die hart dra -
iemand na wie ons sal gaan vir raad.

Ons moet daarom nie wegskram van kritiek nie.
Ons het nodig dat ander ons verantwoordbaar hou,
en ons Christelike karakter verskerp.
Ons moet ook hulle verskerp.
Dit is 'n gawe en verantwoordelikheid,
wat God vir ons Gee!

Ashton