"Maar vir my is dit onbelangrik
wat julle of ander mense van my dink,
ek beoordeel nie eens myself nie,
want ek is nie bewus van iets teen my nie.
(Nie dat dit my regverdig maak nie)
Die een wat my egter oordeel:
is die Here!"
(1Kor 4:3-4)
Die kultuur waarin Paulus geleef het,
was soos meeste kulture
baie besorg oor wat ander mense van hulle dink.
Die idee dat jy is wat jy kies om te wees,
is modern en sou baie vreemd vir Paulus-hulle wees.
Die gemeenskap het jou geoordeel,
en hulle het besluit
of jy 'n goeie of 'n slegte mens,
volwassene of "kind",
vrygewig of suinig is.
Jy is wat jy is,
want die mense sê so.
Al wat jy moet doen,
is om jou reputasie te bou en te onderhou.
Daar is mense in Korinte wat sê dat Paulus
nie 'n goeie apostel is nie.
Hulle sê eintlik hy is 'n slegte dominee.
Die gemeente verwag dat hy aan hulle gaan skryf
om sy reputasie te verdedig.
Maar Paulus sê hy gee glad nie om
wat enige mens van hom dink nie.
Hy gee nie eens om wat hy van homself dink nie -
want anders as wat hulle glo,
is dit nie ander mense,
of 'n sy reputasie,
of eens sy eie persepsies,
wat sy identiteit bepaal nie!
Slegs God kan bepaal wie ons is.
Slegs God gee aan ons 'n identiteit.
Slegs God kan oordeel of ons daardie identiteit verdien.
Hoeveel van ons energie,
word nie spandeer om ander te kry
om baie van ons te dink nie:
ons wil hê hulle moet ons sien as hardwerkend, vroom en suksesvol.
Hoeveel van ons energie,
word nie gemors as onsself oordeel,
omdat ons tekort skiet van die standaarde wat ons vir onsself gestel het nie?
Hoekom?
Want ons dink ons is wie ookal ander mense sê ons is.
Ons dink ons is wie ookal ons voel ons verdien om te wees.
Nee!
Ons is wie die Here sê ons is!
Kinders van God!
Ashton