"Kan 'n vrou haar baba vergeet?
Nie omgee vir die seun van haar skoot nie?
Al sou hulle ook vergeet,
ék sal jou nie vergeet nie!"
(Jes 49:15)
Daar is min dinge so sterk,
en so mooi,
as die liefde wat ouers vir hulle kinders het.
Wetenskaplikes het gevind dat 'n vrou se brein heeltemal
"herbedraad" word tydens swangerskap.
Ouerskap, maak dat mense meer besorg is oor jou kinders,
as jouself.
Jou gedagtes is nie meer by jou eie dinge nie,
maar by die welstand van jou kinders.
Soos die kinders groot word,
kry hulle 'n soortgelyke liefde vir hulle ouers.
Watter mooi en wonderlike verhouding is daar dan nie?
Maar soms loop dinge skeef.
Omstandighede,
selfsugtigheid,
moeilike mense,
drank en dwelms.
Dit verwoes verhoudings,
veral dié tussen ouer en kind.
Wat moet 'n ouer dan maak?
Hulle probeer alles om die verhouding reg te maak,
om hul geliefde kinders te red,
om hul verhouding te red,
maar alles voel tevergeefs.
Die Here ervaar dieselfde met óns -
Sy kinders.
Die sonde, die gebrokenheid van die wêreld,
het 'n kloof tussen ons en Hom gemaak.
'n Eens wonderlike verhouding lê nou in stukke.
Dit skep 'n afstand tussen ons en God.
Maar die Here vergeet ons nie.
Ons hou nooit op om sy kinders te wees nie.
Ons is voortdurend in sy gedagtes,
al is daar 'n kloof tussen ons.
Jesus vertel die gelykenis van die verlore seun,
'n Seun wat sy lewe verwoes het,
Sy pa oneer aangedoen het.
En 'n pa wat nietemin met diep verlange,
gewag het dat hy terug moet kom huis toe.
"'Hierdie seun van my was dood,
en hy lewe weer;
hy was verlore,
en ek het hom teruggekry.'
Toe het hulle begin feesvier"
(Luk 15:24)
Ashton