"En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie;
en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie
—na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd,
sy os of sy esel
of iets wat van jou naaste is nie"
(Deut 5:21)
Die tiende gebod het oor die eeue sy betekenis verloor.
Vandag verstaan mense dit as
"jy moet nie begeertes hê nie".
Dit is nie wat hier staan nie!
Inteendeel, ons lees hoe God dinge skep
wat "begeerlik" is om na te kyk (Gen 2:9).
Die hele boek van Hooglied besing ons begeerte
na romantiese liefde.
Die tiende gebod gaan spesifiek daaroor
dat ons nie iets begeer wat reeds aan iemand ander hoort nie.
Die Here het vir ons elkeen 'n erfporsie afgebaken,
en ons moet ons daarby hou,
en dit koester,
sonder om 'n dreigement te wees vir ander se erfporsies.
Dit werk ook so in die diereryk!
Diere merk vir hulleself grondgebiede af.
Solank as wat die ander diere daardie gebiede respekteer,
is daar vrede.
Verskillende spesies kan vreedsaam saamleef,
solank hulle nie mekaar se kos eet,
of mekaar se lewens bedreig nie.
Vriende wat verlief word op dieselfde meisie,
gaan nie vir lank vriende bly nie.
Kerke wat mekaar se lede probeer afrokkel,
is nie meer besig met die Evangelie nie,
maar om 'n besigheid te bedryf.
Besighede spandeer miljoene om mekaar se klieënte af te rokkel,
en die verbruiker moet uiteindelik daarvoor betaal.
Laat ons daarom tevrede wees met wat die Here ons gegee het,
terwyl ons dit wat ons naaste het,
vir hulle gun.
Laat ons saamleef en saamwerk in vrede!
Ashton