"Ek dank God...
...vir die herinnering wat ek ontvang het
oor jou ongeveinsde geloof,
wat eerste gewoon het in jou ouma Loïs
en toe in jou ma Eunice,
en, so is ek oortuig,
ook in jou is."
(2Tim 1:3...5)

Paulus is moedeloos.
Hy is moeg vir mense wat hulself gelowiges noem,
en dit ook op die oppervlakte is,
maar geen diepte aan daardie geloof het nie.

Kort voor hy hierdie brief skryf,
het baie van sy mede-gelowiges hom verlaat,
want hulle is bang hulle word ook vervolg.
In Efese, waar Timoteus nou is,
het daar "goed-voel" christenskap uitgebreek,
en baie gemeentelede hang hierdie leer aan.
Hulle stel selfs vir hulle leiers aan om hierdie valse evangelie aan hulle te verkondig,
en betaal hulle groot geld (1Tim 6).
Selfs die heidene is geskok oor hoe losbandig hierdie mense leef.

Maar net soos Paulus wil moed opgee,
herinner die Here hom aan Timoteus en sy ma en ouma.

Hierdie twee vrouens het dit nie maklik gehad nie.
Hulle was Jode,
maar is deur die Jode verwerp omdat hulle met Griekse mans getrou het.
Hulle mans het nie hulle godsdiens nagevolg nie.
Hulle was nie welkom onder die Grieke nie,
en ook nie onder die Jode nie.

Nietemin het hulle vasgehou aan hulle geloof!
Paulus besef hierdie geloof,
was niks anders as die Heilige Gees wat in hulle gewoon het nie.

Dieselfde Gees woon nou in Timoteus.
Dieselfde Gees woon nou in my en jou.

Hierdie Gees is die bron van die diep en ongeveinsde geloof
wat Paulus graag wil sien.

Hierdie geloof is nie bang om ongewild te wees nie.
Dit is nie dislojaal teenoor medegelowiges nie.
Dit raak nie weg die oomblik wat dit getoets word nie.
Dit soek nie kort-termyn bevrediging of bewondering nie.

"Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie,
maar van krag
en liefde
en selfbeheersing."
(2Tim 1:7)

Ashton