"Sodat ons deur twee onveranderlike dinge,
waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg,
kragtige bemoediging kan hê,
ons wat ontvlug het,
om vas te hou aan die hoop wat voorlê;
en ons het dit as ’n anker van die siel
wat veilig en vas is"
(Heb 6:18-19)

"Nee liefie, ek sal dit nooit weer doen nie,
ek belowe",
smeek die jongman nadat sy meisie hom uitgevang het
dat hy flankeer met 'n ander meisie.
Sy het lankal agter gekom dat hy nie betroubaar is nie,
maar sy hoop dat sy hom kan verander.

Hoe gereeld gebeur dit nie,
dat ons hoop dinge verander,
wat ons weet nooit gaan verander nie?
Of ons hoop dinge bly dieselfde,
maar ons weet dat dit sal vergaan.

Ons hoop die regering doen hierdie keer beter.
Ons hoop die leerwerk wat ons "gespot" het,
kom in die toets voor.
Ons hoop mense verander hul slegte optrede.

Maar hierdie is 'n valse hoop.
Dis eintlik net 'n manier waarop ons uitstel
om die werklikheid in die gesig te staar.
Dis 'n manier om teleurstelling
nog 'n dag aan te skuif.

Outentieke hoop,
daarenteen,
is vir ons 'n anker!
Dit keer dat die onsekerhede van die lewe
ons in alle rigtings rondslinger.
Dit gee vir ons sekerheid,
en laat ons nie met 'n ongemaklike gedagte
in ons agterkop
wat sê:
"Ek soek nou eintlik net verskonings" nie.

Outentieke hoop is altyd gevestig op iets wat nie verander nie.
Iets wat altyd dieselfde bly.
Vir die gelowige is dit twee dinge:
God se beloftes.
God se eed (verbond).

God het nog nooit sy beloftes gebreek nie,
En sy verbond is geseël met die bloed van Christus.

Hy self belowe:
"En Ek gee hulle die ewige lewe,
en hulle sal nooit verlore gaan
tot in ewigheid nie,
en niemand sal hulle uit my hand ruk nie."
(Joh 10:28)

Ashton