In Genesis 1 lees ons dat God die mens na sy beeld gemaak het.
In Psalm 8 lees ons dat God die mens “net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese” gemaak het.
Dit is hoe God die mens sien!
Maar tussen mense, tussen ons, kry ons baie gou rangordes.
Ons sien party mense as belangriker, en as meer werd, as ander.
Ons praat selfs van die BBP’s.
In ons sosiale strukture doen ons dit ook.
En sekere groepe mense word belangriker as ander.
Dit gaan oor velkleur, of geld, of klas, of beroep, of wat ookal...
Vroue moet dikwels terugstaan vir mans.
Kinders is minder belangrik as grootmense.
Die samelewing waarin Jesus geleef het,
het baie duidelik sulke strukture gehad.
Sekere mense was minderwaardig, en selfs onaanraakbaar!
Maar Jesus kom deurbreek die vooroordele doelbewus, en opsigtelik.
Hy treë in die platteland van Galilea op,
waar die onbelangrikes lewe en werk,soos die vissermanne.
Hy is nie te kry by die Romeinse magsentra soos Caesarea Maratima,
of by Sefforis nie.
Dan sien ons ook nog hoe Jesus se eie volgelinge kindertjies van Hom probeer weghou.
Maar Jesus kom herstel menswaardigheid by alle mense.
Hy leer dat die onbelangrike kindertjies die voorbeeld word waarna ons moet streef.
Dikwels lees ons raak hoe Hy onwaardige vroue se waardigheid herstel.
Dink maar aan die vrou van Lukas 7,
wat ongenooid inbars by die ete wat Simon, die fariseër, vir Jesus gereël het.
Sy is minderwaardig, want sy is ‘n vrou, en sy lei ‘n sondige lewe, as prostituut.
Kan jy dink wat Simon se reaksie moes wees.
Die onaanraakbare bars in sy huis in.
Maar teen al sy protes in, skenk Jesus vergifnes!
Hy herstel haar waardigheid radikaal,
deur haar verhouding met God te herstel!
Hoe dink ek oor mense?
Hoeveel vooroordele het ek nie?
Hoe dikwels betrap ek myself,
oor hoe minderwaardig ek oor ander dink…
Die ou by die verkeerslig met sy karton…
My tuinman, of huishulp…
Die motorwag….
Die uitdaging is om soos Jesus te begin dink!
Hy herstel die wat in ons oë die minste werd is!
Ontdek elke dag die Godswaarde in jouself,
en in elke “ander” mens!
God ag elke mens hoog!
Ernest