Die wêreld het die manier om ons weer en weer te oorrompel.
Elke advertensie sê jy kan nie sonder hierdie of daardie ding klaarkom nie.
Dit laat mens dink aan die vernuftige spinnekop in sy web.
As jy fyn kyk, sal jy minder vrees en baie meer respek vir die agtpoot hê.
Hoe hy met groot vernuftigheid sy web aanmekaar ryg.
Selfs die doudruppels hang, asof gewigloos, daaraan.
En wanneer ‘n insek daarin vasloop, of vasvlieg, dan sit sy turf.
Verstommend blitsvinnig verras die spinnekop sy prooi, en dis verby.
Die wêreld kry dit ook dikwels met ons reg.
Dit smeer ons heuning om die mond.
Dit lok ons aan, en klou ons vas, en ons sit, soos in ‘n web.
Alles wat die wêreld bied is so aanloklik.
Natuurlik bederf die Here ons ook met “dinge van die wêreld”.
Maar ons verloor maklik perspektief, en leef ontevrede.
Ons jaag elke volgende ding, wat ons nog nie het nie.
Ons bou vertrekke aan by ons huis, wat uiteindelik net leeg staan.
Ons ruik nog die nuwe leer van die “ou” motor, en dan ruil ons al weer in.
Ons het toebehore, en wit olifante, wat ons huise vol staan.
Daarom is daar by ons ‘n stil verwondering dat iemand daarin kan slaag,
om alles wat die wêreld bied,
eenvoudig net so prys te gee,
ter wille van die koninkryk van God.
Sal ék?
Wat kan ek anders doen as wat die tollenaar in Lukas 18 doen?
Ek kan maar net soos hy afkyk, en saam met hom vra:
“O God, wees my, sondaar, genadig.”
Ernest