Paulus bly klem lê op die feit dat ons mekaar se geloof moet bou!
Hy skryf verder in Romeine 15:1-3:
“Die van ons wie se geloof sterk is,
het ‘n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie.
Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan.
Geloof gaan tog nie net oor ons nie.
Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak,
sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie.
Daarom moet ons alles in ons vermoë doen,
om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is.
Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou.
Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was.
Hy het nie na sy eie belange omgesien nie,
maar na dié van ander.”

In ons Westerse samelewing is indiwidualiteit baie belangrik.
Met jou geboortesertifikaat word jy al gedefinieer as ‘n onafhanklike.
In baie ander kulture, soos in die Ooste en in Afrika, werk dit anders.
In baie kulture kom ‘n kind die lewe binne, en word wetlik gedefinieer deur
die netwerk van verhoudings waarin die kind staan.
Die kind het nog nie “bestaansreg” voor hy of sy aan die gemeenskap gewys is nie!

Paulus sê dat Christenwees ook met jou medemens te doen het.
Om deel te wees van God se familie,
plaas jou in ‘n network van verhoudings waarin almal ewe belangrik is.
Jý, is veral nie belangriker as enige iemand anders nie!
Die lewe draai nie om mý nie.
“It’s not about me, it’s not about you, it’s all about we!”

Geloof gaan tog nie oor “mý” nie, maar oor die Here, en my medemens!
Christus het presies dit gedoen toe Hy op aarde was….
Hy het nie na sy eie belange omgesien nie,
maar na die van ander.

Ernest