Jesus is so anders as die beeld wat ons dikwels van Hom het.
Ons onthou Hom dikwels net as Lukas 2:12 se aankondiging
“…julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”
So word hierdie vroom beelde in die Christelike kuns oorgedra.
Hy het egter nie met ‘n stralekrans om die kop geloop nie.
Hy was nie sigbaar omring van engele nie.

Sy eerste slaapplek is in ‘n stal tussen vuil diere.
Sy kopkussing is dikwels die klippe van Galilea.
Sy vriende is tollenaars en uitgeworpe sondaars.
Sy preke is gelykenisse en vrae.

Hy kom om siekes te genees, eensames te bereik,
stukkendes heel te maak.
Die wat in die donker leef na die lig te bring.
Hy is God se wil in lewende lywe!

Verseker is Jesus nederig.
Hy is naby.
Maar Hy is nie veilig en voorspelbaar in ons terme nie.
Hy gaan lynreg teen die amptelike godsdiens in.
Hy maak God se koninkryk bekend, ten koste van baie ander sienings.
Hy gooi die tempelkultus onderstebo.
Hy veroordeel die dooie rituele,
wat in die naam van godsdiens op mense af-geforseer is.

Dit maak dat mense so in opstand teen Hom kom,
dat hulle Hom aan die kruis vermoor.
Maar dit is juis sy kruisdood wat God se pad van genade aandui.
Jy sal eers saam met Hom by Golgota moet gaan draai,
voordat jy oor Hom kan praat.
Jy moet Jesus ontmoet,
om regtig oor God se wil na te dink, en dit uit te leef.
Jesus, en God se wil, is ewe min in die stroom van die wêreld.
Daarom word ook ons, wat meer en meer soos Jesus leef,
en God se wil doen, vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld.
1 Pet. 2:11.

Ernest