Wanneer dit by God se beloftes in die Bybel kom,
dan sê ons maklik ons glo dit,
maar ons vertrou nie régtig op die Here daarvoor nie.
Gevolglik beleef ons nie eerstehands die wonder van vervulde beloftes nie.
Ons maak staat op ander mense se ondervindings om ons geloof te versterk.
‘n Groep toeriste het onder leiding van ‘n gids ‘n toer deur ‘n munt gedoen.
By die smeltery het die gids verduidelik dat,
indien jy jou hand in koue water sou druk,
en daarna die gesmelte metaal oor jou hand uitgiet,
jy nie sal brand nie en geen pyn sal voel nie!
Ander personeel het dit bevestig.
Die gids het gevra of die toergroep dit regtig glo.
Almal het gesê hulle glo dit. Regtig.
Die gids vra toe ‘n egpaar om dit te doen.
Die man het dadelik gesê hy glo dit,
maar vertrou nie genoeg om dit te dóén nie.
Die vrou het gesê sy glo dit én sal dit doen.
Sy het haar hand in die koue water gehou,
en die metaal toe daaroor laat vloei.
Die warm metaal het van haar hand afgeloop,
sonder dat sy enige pyn gevoel het.
Dit gaan ook so met ons geloof en vertroue.
Ons sê ons glo wat God sê, soos die man in die munt,
maar ons steek nie ons hand in vertroue uit nie.
Ons beleef die vervulde beloftes van ander wat hulle hande uitgesteek het,
maar ons beleef dit nie eerstehands in ons eie lewe nie.
Ons sal sê ons glo jy moet jou tiende gee,
en ons glo God se beloftes daaroor,
maar ons steek nie ons hand uit en gee dit nie.
Ons vertrou nie regtig dat Hy sal sorg nie.
Ons het dit nodig om self te sorg.
So gaan dit met so baie beloftes van God.
Ons sê ons glo dit, maar ons vertroue ontbreek….
In Psalm 16 praat Dawid van die pragtige deel wat God vir hom afgemeet het.
In die eerste vers van die Psalm sê hy:
“Neem my in beskerming, o God;
Ek soek skuiling by U.”
En dan glo hy dit nie net nie.
Hy handel in vertroue daarin.
Hy het die betekenis van geloof én vertroue, sáám, verstaan,
en dit bewys in sy stryd teen die reus Goliat.
Hy loop Goliat tegemoet, teen alle menslike logika in.
Gló, én vertróú!
Ernest