Mislukking is nie altyd mislukking nie
Partykeer is ekself die oorsaak van mislukking.
Ander kere gebeur dinge buite my beheer, wat lei tot mislukking.
So het dit ook met Paulus gebeur.
Hy skryf in Filippense 1:12:
“Wat my oorgekom het,
het juis die verkondiging van die evangelie bevorder.”
Paulus het die begeerte gehad om as ‘n vry man na Rome te gaan.
Hy wou die evangelie daar gaan verkondig.
Hy is egter as ‘n gevangene daarheen geneem.
Dit het gelyk asof hy in sy voorneme misluk het.
Maar, vanuit die huis waar hy gevange gehou is,
het hy so getrou die evangelie verkondig,
dat sy wagte die evangelie gehoor het.
Hy het ook vanuit die gevangenis baie van sy briewe geskrywe.
Daarom kon hy aan die Christene in Filippi skryf dat alles
die verkondiging van die evangelie bevorder het.
Die Britse staatsman, Winston Churchill, het twee keer in verkiesings misluk.
Hy het op daardie stadium omtrent geen politieke invloed gehad nie.
Hy het volgehou en uiteindelik in 1940 Eerste Minister van Engeland geword.
Vandag word hy as ‘n briljante staatsman beskou,
en ‘n held van die Tweede Wêreldoorlog.
Wanneer my goedbeplande poging skeefloop,
moet ek dit goed evalueer en nie bloot as ‘n mislukking aanvaar nie.
Wat word daaruit geleer?
Het ek volle beheer oor die uitkoms gehad?
Wat is die gevolg daarvan?
Wat doen die Here daarmee?
Soos Paulus, kan ek steeds my roeping uitleef,
en God gebruik my, ten spyte van mislukkings.
Oswald Chambers het gesê:
“Moenie toelaat dat ‘n gevoel van mislukking jou ooit
terughou in die Here se werk nie…..
en gaan dan die toekoms tegemoet,
die onkeerbare toekoms, wat egter in Christus se hande is,
en weet dat hy jou help.”
Mislukking is ‘n gebeurtenis,
nooit ‘n persoon nie.
Bly voluit vorentoe leef!
Ernest