Raak ons nie te gewoond aan God nie?
Ons raak so tuis op die terrein van godsdiens,
dat ons egte verwondering van God,
en ons aanbidding skoonveld is!
Die diep bewussyn van God se heiligheid raak afwesig.
Verseker is God in Christus kenbaar, dienbaar, en naby.
Ja, selfs deur die Heilige Gees in my.
Maar kan ons daarom maar gemaklik raak,
selftevrede en uitgesproke op Sy terrein?
Gebed is een van die wonders wat God geskenk het,
om die wonderlike verhouding met Hom te beleef, te ervaar, en te geniet.
Dit vra egter opnuut van my ‘n nederigheid,
nederigheid wat vrug is van die Heilige Gees in my.
Galasiërs 5:23.
Ons kan baie maklik, in God se teenwoordigheid,
in die slaggat van selfsug beland.
Dan bid ons, maar dit draai maar eintlik alles rondom onsself.
Ons moet elke dag van voor af in stil verwondering voor God neerval.
Dit moet nie vir ons te maklik word om te bid nie.
Dit is nie maar sekere “bewegings” waardeur ons gaan nie.
Ons moet stil op die Here wag.
Regtig wag….
Klein voor die Almagtige God.
Maar tog ook kind by die Vader.
Ernest