Party van ons, ja, dalk die meeste van ons,
dink dat langer stiltetyd en meer gebed,
ons God se seën meer sal laat ervaar.
Is dit regtig so?
Stem nie saam nie.
Gebed en bybelstudie werk nie vir elkeen dieselfde nie.
En dan loop baie van ons uiteindelik rond met opgehoopte skuldgevoelens.
Ons kan nie so lank bid soos die kampioen-bidders rondom ons nie.
Ons kry dit ook nie reg om elke dag ‘n uur lank stiltetyd te hou nie.
Ons kry dit nog minder reg om dit voor sonsopkoms te doen.
En die wat dit doen, sê ons moet dit óók doen!
Hoekom maak vyf uur in die oggend meer saak as enige ander tyd van die dag?
Hoekom sal ten minste ‘n uur meer seën inhou, as enige korter of langer tyd?
Alles vereistes wat deur sommiges gestel word om die Here se seën te beleef!
Die doen van godsdienstige handelinge,
kan nooit belangriker word as ‘n dinamiese,
lewende verhouding van liefde met die Here self nie.
Al lyk hierdie godsdienstige handelinge ook hóé mooi,
dit is nié normatief vir elkeen se unieke verhouding met die Here self nie.
Gebed en die Woord, en nadenke daaroor, is lewensbelangrik.
Maar dit is nooit die doel opsigself nie.
Ons verdien nie daarmee God se seën op meerdere manier nie.
Geestelike dissiplines kan maklik gewete-stillers,
of meetinstrumente word vir persoonlike toewyding.
Kort gebede, soos die Ons Vader, is ewe kragtig as marathon gebede.
En opregte gebed het ‘n kragtige uitwerking, sê Jakobus.
Maak ook nie saak wanneer dit gebid word nie.
Ons bou ook nie geestelike “voyager miles” op met lang gebede of stiltetyd nie.
God kyk na ‘n opregte hart.
Ons staan deursigtig voor Hom.
“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my” – Psalm 139:1.
Ernest