“Die wolk van die Here was bedags oor hulle,
as hulle van die kampplek af wegtrek.” Num. 10:34.

Elke keer as Israel in die woestyn moes verder trek,
was daar gewis ‘n beroering onder hulle.
Elke stam moes sy plek inneem en die trompette het geklink.
Met Juda vooraan het hulle die dag van Sinai af weggetrek.
By elke oorstaan plek het baie dinge gebeur.
Kinders is gebore. Vriende is gemaak.
Geliefdes het gesterf en is daar begrawe.
Hulle moes dit agterlaat en verder trek tot by Paran.(Num. 10:12.)

Dit werp ook lig op ons aardse bestaan.
Altyd aan die beweeg.
Nuwe grense word oorgesteek soos die lewe aanstap.
Die bekende moet gelos word, en die onbekende ingegaan word.
Nuwe werk. Nuwe blyplek. Kinders word gebore. Kinders verlaat die huis.
Gesondheid-siekte, jeug-ouderdom….lewe-dood.

Aangrypend is dat Israel nooit alleen getrek het nie.
God is by hulle.
Op ‘n keer, na die goue kalf gebeure,
het Moses selfs geweier om sonder God verder te trek!
Sonder God sou hulle nooit kon oorleef nie. Eks.33:1-16.
Weer is God se liefde eenvoudig te sterk!
Hy sou hulle elke dag lei in die woestyn….!
Vooraan sou ‘n wolk wees as teken dat God by hulle is!
Deur son en sand en dors en honger sou Hy voorsien.

Hulle moes God se nabyheid ontdek, leer ken, daaruit leef, afhanklik.
Dit het die woestyn gekos om hulle by die punt te bring.
Nie reguit kortpad nie. Nie ‘n kitsgod nie.
Maar die intieme-verhoudings God wat regtig liefhet.
Hulle moes leer om Hom dag vir dag, en tree vir tree, in die woestyn te vertrou.
Onontbeerlik vir hulle voortbestaan.

Dit Is ook die pad wat God met jou loop.
Is jy al daar?
Vertrou jy God vir elke dag, en tree vir tree, met jou hele lewe?
Regtig?
Net so sal jy met vreugde deur die woestyn trek!

Ernest