Ons is so ingetrek in indiwidualisme.
Jesus Christus verkondig ‘n ander leer as die leer van eiesinnige indiwidualisme.
Lees byvoorbeeld Matteus 18:19-20:
“As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid,
sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry,
want waar twee of drie in my Naam saam is,
daar is Ek by hulle.”
Die Here beklemtoon dikwels saamwees in menswees, en kind van die Here te wees.
Hy stuur sy volgelinge twee-twee, en soms selfs in ‘n groot groep uit.
Hy neem ‘n paar van sy dissipels saam met Hom na die verheerliking op die berg.
Hy neem ook ‘n paar van sy dissipels saam met Hom na die worsteling in Getsemane.
Hy leer sy volgelinge om twee-twee te gaan na ‘n medegelowige wat verkeerd optree.
Hy leer hulle om in groepies te bid, en as ‘n eenheid in sy Naam saam te wees.
En Hy belowe sy teenwoordigheid waar twee of drie in sy Naam saam is.
So beklemtoon Hy saamwees, veral ook in sy Naam.
Hoekom skram ons so weg van saamwees?
Is dit omdat menseverhoudinge vir ons risiko’s inhou?
Is dit dan nie juis daar waar ons suurdeeg, sout en lig moet wees nie.
Dink ons regtig die Here wil dat ons alles wat ons vir Hom doen,
in die privaatheid moet doen?
Wat se getuieniskrag sou dit inhou?
Dit is ‘n afwyking van die leer van Jesus.
Daarom dat ook die Hebreër-skrywer dit beklemtoon in Hebreërs 10:25:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie…”
Ernest