Dit is hoe Moses op ‘n punt gevoel het.
En dikwels voel ons ook so.

Moses kon net nie meer nie.
Die volk kla oor alles en almal en verwyt hom oor hul swaarkry.
‘n Skielike lus vir vleis oorval hulle.
Hulle begin kla oor die daaglikse manna wat soos “oliekoeke” smaak. Num.11:8.
Hulle sug na vis, en “komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel” Num.11:5.
Hulle is sat vir son en sand en woestyn en manna.
Hulle sê “nou wurg ons.” Num.11:6.

Hulle wil terug Egipte toe.
Was Egipte so lekker?
Hoekom het hulle dan saam getrek.
Hulle het die hel van Egipte ook gou vergeet…
Net soos hulle die nabyheid van God vergeet.

God, en Moses, was woedend.
Moses begin nou oók by God kla!
Hy dink God verwyt hom nou ook vir alles.
God gee nie vir hom om nie, en daarom vra hy:
“Waarom behandel U my so sleg?”
Hy dink God is onredelik.
Hy verwag te veel.
Selfs Moses dink hy moet die las van die volk manalleen dra.

God se deernis gryp jou aan.
Na die goue kalf waansin sou ons dink God is nou klaar met hulle.
Moses het gepleit, en Israel is nie uitgewis nie.
God se genade, barmhartigheid, lankmoedigheid, en liefde,
is eenvoudig net te groot om hulle prys te gee.
Dié dag, daar by Kibrot-Taäwa,
ontdek ‘n woedende Moses opnuut die deernisvolle God!
God wat hom sy hart laat uitpraat.
God wat hom juis in dit vashou, en nie laat los nie.
God wat hom deernisvol help, en dra, met intense liefde!

Wanneer dit vir jou voel of die lewe een te veel raak,
en jy selfs, soos Moses, dink dat God jou “sleg behandel”,
kan jy weer soos Moses die deernisvolle God ontdek.
Jy kan jou hart uitpraat met Hom.
Hy sal jou dra en jou help.
Hy sal jou nooit in die steek laat nie!

Ernest