Jeremia is al die treurende profeet genoem.
Hy het waarskynlik ’n sensitiewe gees gehad.
Moontlik ‘n melankoliese persoonlikheid.
Hiermee saam is hy baie hartseer oor God se oordeel oor sy volk.
Die omvang van sy hartseer beskryf hy in Jeremia 9:1:
“Ag, was my kop maar vol water en my oë ‘n fontein met trane,
dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote…”

Asof dit nie genoeg is nie,
is dit juis sy eie volk wat hom vervolg,
oor sy profeiese boodskap aan hulle!
Hy word in ‘n put gegooi “waarin nie water was nie, net modder” – Jer.38:6.
Hy is byna in ‘n toestand van wanhoop…
Hy sit letterlik en figuurlik in ‘n modderput!
Vasgeval.

Ook in ons eie pogings om die Here te dien,
beland ons in moeilike situasies.
Ons voel ons kan nie verder nie.
Vasgeval in ‘n modderput.
Dan kan ons gerus aan Jeremia dink om ons te motiveer.
Sy bewustheid van sy roeping van God af, laat hom oorwin.
Elkeen het ‘n roeping van God ontvang om vir Hom te leef in hierdie wêreld.
Dit moet ons motiveer om te volhard.

Kyk net hoe beskryf Jeremia dit in Jeremia 20:9:
“En wanneer ek dink ek sal my nie meer aan Hom steur nie,
en nie meer in sy Naam praat nie,
dan word dit in my soos ‘n vuur wat brand,
en waarvan ek nie kan loskom nie.”
Volhard in jou lewe vir die Here.
In jou getuienis dade en woorde vir Hom.
Ongeag teenstand.
Ongeag teleurstelling.

Ernest