Dit is die opskrif van Psalm 77.
Ons vergeet so maklik dat God getrou is, en onveranderlik is!
Wanneer dinge dan anders verloop as wat ons verwag,
dan roep ons saam met die psalmskrywer in vers 11 uit:
“Dit is my droefheid:
Dat die Allerhoogste nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie.”
Dan verlam ons huidige omstandighede ons,
en ons verloor sommer ons visie op God!
Dan beskuldig ons Hom dat Hy nou nie optree soos voorheen nie!
Dink aan die seisoene.
Wanneer ons van winter na lente beweeg, kry ons soms ‘n laat koue front.
Almal kla oor die skielike koue wat nou weer toegeslaan het, en ons onkant betrap het.
Ons kla dat ons weer die warm klere moet uithaal, die kaggel moet aansteek,
en oor die kragrekening wat nou weer toeneem.
Maar niemand dink vir ‘n oomblik dat die lente nou nié weer sal kom nie,
en dat die siklus van siesoene nou skielik tot ‘n einde gekom het nie!
Nee, lente sal beslis kom!
Hoekom dink ons dan só oor God?
Dat hy nou nie sal optree soos voorheen nie!
Die psalmskrywer het seker ná vers 11 mooi gaan sit en dink….
En dan skryf hy verse 12 en 13:
“Here, ek onthou wat U gedoen het,
U wonderlike dade van destyds.
U dade bly in my gedagtes.
Al u werke wil ek bepeins.”
Skep moed en kyk terug op God se getrouheid in alles!
Moenie te gou sê dat Hy nou nie optree soos Hy voorheen gedoen het nie!
Dit is wat die psalmskrywer hier gedoen het…
Maar hy kom weer tot die insig van Wie God is!
God se goedheid in die verlede,
en sy getrouheid tot in ewigheid,
gee jou hoop en sekerheid vir nou,
en vir jou toekoms.
Ernest