“Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode,
een gemaak het. Deur sy liggaam te gee het Hy die vyandskap afgebreek
wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.” – Efesiërs 2:14.
Vers 16 gaan verder:
“Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap
en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig.”

Jesus Chistus het sy lewe daarvoor gegee!
Om mense met God en met mekaar te versoen.
Ongeag ras, kultuur, klas, of wat ookal.
Ons gebruik, aan die ander kant,
ons lewe om skeiding tussen mense te bring!

Ons kla dat “ons” nou polities benadeel word.
Dat 10% van “ons mense” tans ernstige armsorg-gevalle is.
Dat regstellende aksie “ons” tref.
Dat “ons” ernstig onder misdaad ly.
En dit alles is waar.

Die probleem is dat “ons” onsself nou opstel teenoor “hulle”.
En nou maak ons weer vyande,
nadat Jesus sy lewe kom gee het vir versoening.

Die Evangelie van Jesus Christus is nie ‘n spyskaart
waar jy sekere geregte kan kies, en die res ignoreer nie.
Die Here gee ons nie die luukse om te kies wie jou naaste is nie.

Die Evangelie eis dat ek my vyande moet liefhê,
en die tweede myl saam met hulle moet stap, al kos dit my wát!
Terwyl ek nog worstel met al my bitterheid oor die onreg waarin ek leef,
moet ek reeds bekers koue water uitdeel aan my “vyande”…..
wat eintlik nie eers my vyande is nie!
Al sou dit verwerping kos van hulle wat die evangelie net 50% wil uitleef.
Ek wil dit 100% uitleef, al is dit hoé moeilik, ek sal nié opgee nie,
omdat die Here nog nooit met mý opgegee het nie.

Die navolging van Jesus kos ‘n prys.
Dit laat verál die profetiese stemme ly.
Deur die eeue was dit so.
Maar:
Om Jesus te kies,
beteken verseker dat jy nié jou naaste kan kies nie!

Ernest