“Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag,
met die swaard vermoor.
Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle.
Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel.” Hebreërs 11:37.
Ons dink maklik in ons tyd en persoonlike omstandighede,
dat die verhaal van Christene wat swaarkry en lyding verduur,
tot die verlede behoort.
Vir ons het godsdiens ‘n sagte en geborge bestaan geword.
Jesus is die Goeie Herder en ons rus by sagte en groen weivelde.
Die Bybel dui egter aan dat dit nie so is nie.
Die verhaal van die Here Jesus en sy volgelinge weerspreek so ‘n siening.
Jesus Christus, Paulus, Stefanus, Petrus, en die martelare wat sou volg
draai so ‘n voorveronderstelling nek om.
Ook vandag nog word Christene erg vervolg en gemarginaliseer.
Wanneer ons op een of ander manier swaarkry as gevolg van ons geloof,
dan vra ons maklik: “Hoekom ek?”
Die vraag moet in die lig van lyding vir Chrisus eerder wees:
“Hoekom nié ek nie?”
Om in hierdie wêreld ‘n Christen te wees,
is om gereeld gereed te wees vir kop aan kop botsings,
met die magte van die duisternis.
Indien jy lyding vryspring,
is dit ‘n verbasende luukse,
waarop jy geen aanspraak kan maak nie, of wat jy kan verdien nie.
Dit is nie iets wat jou toekom nie,
maar die onverklaarbare genade van die Here!
Tog staan die Here by jou in voorspoed en teëspoed, ewe veel!
Jesus sê self in Matteus 28:20:
“En onthou: Ek is by julle al die dae, tot die voleinding van die wêreld.”
Gelowiges sal swaarkry,
omdat die Bose steeds probeer om die koninkryk van God,
en sy kinders uit te wis.
Hy kan egter nie.
Die Here is die oorwinnaar!
Ernest