“Ons is maar kleipotte wat maklik breek.” – 2 Kor. 4:7.

Klink dit negatief?
Dit is verseker nie!
Want, al is ons kleipotte wat maklik breek, bêre God steeds sy skat in ons!
Lees nou bietjie die hele vers:
“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek;
Die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”
Nou is dit ‘n ongelooflik positiewe vers!

Hierdie vers wys vir ons dat God nie sy skatte bêre in engele,
of hemelwesens wat nooit hulle tone stamp nie,
of in “volmaaktes” wat nooit kan breek nie.
Die lewe breek ons soms aan skerwe.
Ons maak foute wat ons baie duur te staan kom.
Ons maak ook God en mense seer.
Ons ervaar dikwels in frustrasie ons eie onvermoeë.

In ‘n toneel uit Leonard Bernstein se “Mass”,
word ‘n priester op die hande gedra deur ‘n skare mense.
In sy hande hou hy ‘n nagmaalbeker wat van glas gemaak is.
Die skare struikel en die priester en die glasbeker val op die grond.
Dit spat in skerwe terwyl kinders in die agtergrond sing:
“Prys die Here, prys Hom, prys Hom.”
Groot ironie?
Dan stap die priester na die beker en tel glasskerwe op.
Hy hou dit in die lig en roep uit:
“I never realized that broken glass can shine so brightly!”
Die boodskap is duidelik:
Al breek ons maklik, skyn God se lig nog steeds in ons!
Ons is nie volmaakte mense nie, maar vergeefde mense.
Vergeefde mense wat kan nuut lewe.

Verder in “Mass” is daar ‘n toneel waar die priester
die een na die ander kleed aantrek.
Dit raak naderhand vir hom te swaar om te beweeg.
Dan ruk hy alles af en staan net in sy T-hemp en jeans, en roep uit:
“Kyk na my! Daar is niks behalwe ék onder dit alles nie!”
Dit is hierdie ék, gestroop van alles, en as’t ware naak voor God,
in wie Hy sy skat kom bêre!

Ernest