Toegewyde gelowiges wil graag geestelik groei.
Die meeste gelowiges is egter nie gelukkig met hul geestelike groei nie.
En die ergste van alles is dat baie gelowiges inderdaad net mooi niks groei nie.

George Barna het ‘n studie hieroor gedoen wat in 2010 gepubliseer is.
Hy het presies dit bevind.
Baie gelowiges is betrokke in kerklike gesprekke, en in Bybelstudies, en stiltetyd,
maar weinig transformasie vind in hulle daaglikse lewe plaas.
Hulle voel beter op emosionele vlak,
maar hulle impak in die samelewing verander nie noemenswaardig nie.
Ten spyte van hulle kerklike aktiwiteite en stiltetyd.
Hulle gesindhede verander ook nie ten opsigte van mense
soos ander rasse, armes, of sosiale stand nie.

Dit is goed dat mense beter voel oor hulself omdat hulle in God glo.
Ook dat hulle voel dat hulle met ander mense oor die Here moet praat.
Die vraag is egter nie of ons geloof aan ons ‘n groter gevoel
van geborgenheid moet gee nie.
Dan gaan dit weer oor onsself.
Ons is juis daar vir die Here vir ander!
Ons is God se lewende gawes aan die wêreld.
Hy skep ons vir Homself, en vir omgee en diens namens Hom.
“Liefde en trou bring versoening….” – Spreuke 16:6.

Ons word alleen sterker in ons geloof as ons nie meer op onsself fokus nie,
maar op die Here en die mense waarheen Hy ons stuur.
Daar lê die geheim van geestelike groei.
En daar lê die probleem hoekom ons so sukkel om te groei.

Ernest