‘n Leraar by ‘n klein kusdorpie se kerk was bo-op ‘n heuwel in die dorpie.
Dit het naby die hawe gelê en afgekyk op die hawe.
Dit was ‘n goeie rigtingwyser en baken vir skepe wat ingekom het.

Een Sondagaand was daar ‘n hewige storm.
Die kans was skraal dat iemand vir die diens sou opdaag.
Die leraar het besluit dit help nie om te gaan nie.
Op aandrang van sy vrou het hy later teensinnig gegaan.
Hy het sopnat by die kerk opgedaag.
Dit was pikdonker en hy het die kerk se lampe begin aansteek,
een vir een, terwyl hy wonder of dit regtig nodig is.
Later was die kerk heeltemal verlig.
Niemand het vir kerk opgedaag nie, nes hy vermoed het.
Hy het gedurende die dienstyd in die kerk aanbid,
en is na die dienstyd terug huis toe.

Die volgende oggend was daar ‘n klop aan sy voordeur.
‘n Skeepskaptein het voor hom gestaan.
Hy het namens hom en die bemanning kom dankie sê.
Hulle kon gladnie die hawe sien nie.
Hy het vertel hoe hy die manne in die pikdonker storm bemoedig het.
Hoe hy hulle verseker het dat die kerk se lig binnekort sou
aangesteek word vir die aanddiens!
Dan sou hulle presies kon sien hoe hulle moes invaar in die storm!
Die manne op die dek het meer en meer gejuig,
soos die kerk se lampe dit meer en meer verlig het!
Almal het geweet hulle is nou veilig.
God het getrou gesorg!

Die leraar het verstom voor die skeepskaptein gestaan.
Hy het Jesus se woorde in sy ore hoor eggo:
“Julle is ‘n lig vir die donker wêreld rondom julle.
Julle geloof moet net so sigbaar wees,
soos ‘n stad wat hoog bo-op ‘n berg gebou is.”
Matt. 5:14 – Die Boodskap.

Wanneer jy dit die minste verwag,
gebruik die Here jou lig om die duisternis te verdryf!
Laat die Here se lig deur jou skyn.

Ernest