“Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê.
Vrees God. Eer die keiser.” 1 Petrus 2:17.

 

Dit is nie maklike woorde wat Petrus hier praat nie.
Onthou dat hy hier met Christene praat wat dit bitter swaar het.
‘n Groot deel van sy briewe is juis bemoediging vir mense in nood.
Die Romeinse owerhied het dit baie swaar gemaak vir die Christene.
Nou kom Petrus ook nog met hierdie gehoorsaamheid aan die owerheid.
En eer die keiser!
Hy skryf in vers 13:
“Omdat die Here dit wil,
moet julle julle onderwerp aan elke menslike owerheid,
of dit nou die keiser as hoogste gesag is,
of die goeweneurs as sy gevolmagtigdes,
wat die wat kwaad doen, moet straf,
maar die wat goed doen moet prys.”
Let op: “Omdat die Here dit wil…”

 

Julle moet álle mense respekteer, sê vers 17.
Álle mense!
Die vertrekpunt is nie wie die mense is nie.
Die vertrekpunt is dát hulle mense is.
God se mense.
Álle mense is beelddraers van God.
Juis dáárom hanteer ons hulle met respek.
Jy hoef nie hulle dade goed te keur nie.
Eerbiedig te alle tye hulle menswaardigheid,
geskep na die beeld van God,
vir wie Christus óók die prys betaal het.

 

Vrees God, sê die vers verder.
Dit beteken ons moet vir Hom ontsag hê,
en sy wil gehoorsaam.
Hiermee wil Petrus beklemtoon
hóé belangrik dit is wat hy hier sê!
Dit is God se wil! Doen dit!
Jy moet jou naaste liefhê, is God se wil!
Daarom respekteer jy álle mense!
Hoekom wil ons altyd die sirkel so klein as moontlik maak,
wanneer dit kom by wíé ons moet liefhê,
en wie ons moet respekteer?
Daarom moet ons selfs die keiser eer.
Daar staan dit.
Selfs die keiser….

 

Ernest