In 1860 het Thomas Inman geneeshere aanbeveel dat hulle
nie medikasie moet voorskryf as hulle nie seker is dit gaan werk nie.
Hulle moes aan die pasiënt die “voordeel van die twyfel” gee.
In die reg werk dit ook so.
Indien ‘n persoon nie bo alle twyfel skuldig bevind word nie,
kry hy die voordeel van die twyfel, en is die uitspraak “onskuldig”.
Ons behoort as Christene dit ook in ons verhoudings met mense toe te pas.
Ons oordeel en veroordeel baie makliker,
as wat ons die “voordeel van die twyfel” gee.
In 1 Kor. 13:7 lees ons:
Die liefde “.. bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Wat word bedoel met “glo alles”?
Len Morris sê in die Tyndale New Testament Commentaries
die volgende oor hierdie “glo alles”:
“Om die beste in ander mense te sien en lief te hê…
beteken nie dat jy alles moet glo nie,
maar aan die ander kant juis dat jy nie altyd
die slegte of slegste moet dink nie.”
Dit is wat ons gewoonlik dink.
Die oomblik as ons twyfel, veroordeel ons ook, en dink die slegte.
Die liefde behou steeds die geloof.
Liefde word nie sommer maklik bedrieg nie.
Liefde is altyd gereed om voordeel van die twyfel aan ander te gee.
Ons weet dikwels te min van die persoon, die omstandighede, of die gebeure,
om maar net toe te laat dat die twyfel ons na die slegte trek.
Wanneer ons iets negatief van ‘n ander hoor, of agterdogtig oor iemand se optrede is,
moet ons nie voor die voet die slegte glo nie,
en nie te maklik oordeel of veroordeel nie.
Liefde gee in onsekerheid of twyfel eers die “voordeel van die twyfel”.
Ernest