Benediktus, die bekende kerkvader,
het beginsels vir die ontwikkeling van nederigheid neergelê.
En dit nogal vir die kloosters!
Mens sou dink dat die monnike in die kloosters nederig lewe.
Benediktus het egter agtergekom dat geloof opsigself
mense nie nederig maak nie.

Hoe groei jy in nederigheid?
Benediktus het gesê jy moet deurgaans besef
dat jy in die teenwoordigheid van die Here leef.
Dit bring by jou intense respek en agting vir God.
Dit bring verder mee dat jy God se wil doen,
ten koste van jou eie wil.
Jy ontwikkel ook geduld met mense, ook moeilike mense.
Daarmee saam groei jy in die besef van jou eie tekortkominge,
en jy is eerlik daaroor, en daarmee.
Jy besef dat jyself nog dikwels God se wil oortree.
Benediktus sê jy raak ook ingeoefen om minder te praat, en meer te luister.
Jy verander meer en meer deur die liefde van God in ‘n sagte mens.
Dit is ‘n mondvol.
Lees weer rustig hierdie paragraaf en oordink dit.
Psalm 138:6 sê:
“Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige,
maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.”

Mens styg egter nie uit in nederigheid nie.
Dit werk so anders!
Anders is jy later trots op jou eie nederigheid!
Eintlik “daal” jy in nederigheid.
Jy groei kleiner, om meer te groei.
Jy word minder, om meer bruikbaar te wees vir die Here.
Ons is gewoond aan groter, ryker, sterker, meer bekend, meer gewild.
Dit is so radikaal anders met nederigheid.

1 Petrus 5:5:
“…Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help,
want “God weerstaan die hoogmoediges,
maar aan die nederiges gee Hy genade.”

Ernest