Jesus Christus het sy lewe daarvoor gegee,
om mense met God en met mekaar te versoen.
Ongeag ras, kultuur, klas, volk, of wat ookal.
Reeds in die Ou Testament praat God gereeld
met die volk oor hoe hulle die vreemdelinge onder hulle hanteer.
Mense van ander volke wat tussen die Jode bly.
Hulle moet getuies wees van God se liefde vir alle mense.
Vandag sien ons egter in ons eie land
hoe die vreemdelinge verdryf word met geweld.
Dit is “ons” en “hulle”.
Ons sal baie kan redeneer oor hoekom hulle hier is,
of nie hier behoort te wees nie.
Die gevare wat dit meebring op verskillende terreine.
Die feit is dat ons wat so negatief en veroordelend daaroor praat,
net soveel skade aanrig as die wat hulle verjaag.
Het jy al vir elke keer wat jy daaroor praat, ook intens daarvoor gebid.
Die probleem is dat “ons” nou onsself opstel teenoor “hulle”.
Nou maak ons weer van voor af vyande,
nadat Jesus sy lewe kom gee het vir versoening tussen mense.
Die Here gee ons nie die luukse om te kies wie ons naaste is en wie nie.
Die Evangelie is in hierdie opsig radikaal.
Die Evangelie eis dat ek selfs my vyande moet liefhê.
Ek moet die tweede myl saamstap, al kos dit wat ookal.
Ek moet bekers koue water en brood uitdeel.
Dit gaan maak dat die wat die Evangelie net 50% wil uitleef,
my veroordeel wat dit 100% wil uitleef.
Maar ek gaan nie my vrede by húlle kry nie!
“Christus is ons vrede, Hý wat die twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het.
Deur sy liggaam te gee het Hy die vyandskap afgebreek,
wat vroeër soos ‘n muur skeiding gemaak het.” Ef. 2:14.
Al is dit hoe moeilik, moenie opgee nie.
Die Here het nog nooit met mý, of met “hulle” opgegee nie!
Die navolging van Jesus kos ‘n prys.
Om Jesus te kies,
beteken dat jy verseker níé jou naaste kan kies nie.
Ernest