Nou sluit Job se derde vriend aan.
Hy tree ook toe tot die verklarings rondom Job se ellende.

Party mense weet altyd van beter.
As jy dit sê, dan sê hulle dat.
Hulle oplossings is altyd beter.
As jy ‘n storie het, dan neem hulle altyd oor met ‘n beter storie.
Al was hulle nie eers in die storie nie.
Jy is ook nooit reg in hulle oë nie.
Hulle weet eenvoudig die beste en die meeste.
Dit sien ons by Job se vriende, Elifas en Bildad.

En veral nou ook by Sofar.
Hy weet ook van beter.
Hy skiet sommer uit die heup!
Job se probleem is daardie lasterende tong van hom!
Job is, volgens hom, veels te reguit met God!
Want,Job hou aan om te sê hyself is onskuldig,
en hy beskuldig God van onregverdigheid.
Hiervan wil Sofar niks weet nie.
Job praat godslasterlik.
So eenvoudig soos dit.

Sofar gaan voort om vir Job te verduidelik hoe groot God is.
Maar óók dat Hy die skynheiliges raaksien! Job 11:11.
Sofar pleit by Job om sy sonde te laat staan.
Hy moet berouvol God se aangesig soek.

Sofar kyk Job se hart mis.
Job is juis die een wat nie God se hand gelos het nie!
Dit is juis hoekom hy so intens met God kan worstel!
Job kyk God direk in die oë, oor sy krisis.
Hy veg juis in die openbaar met God, nie agteraf nie.

Die drie vriende verstaan God in terme van straf en sonde.
Oorsaak en gevolg.
Job, daarenteen, smag na ‘n diep verhouding met God.
Hy kan nie rus totdat dit gebeur nie.
Job wil God in die oë kyk.

Soek self só na God se wil.
En moenie self ‘n godsdienstige beterweter wees nie!

Ernest