Hoe opreg bedoel ons ons goeie wense en voorspoed vir mekaar?

Die Chinese se seisoen van die nuwe jaar word met groot etes gevier.
Hulle het ‘n besondere dis wat bestaan uit slaaie,
slaaisouse, piekels, atjar en rou vis.
Die naam van die gereg is “Yu Sheng”,
wat ook ‘n woordspeling is wat “goeie wense en voorspoed” beteken.
Terwyl almal teenwoordig die slaai meng,
word uitsprake gemaak wat hulle glo
voorspoed en goeie wense verseker.

Ons wens ook dikwels ander mense voorspoed en seën toe.
Die vraag is hoe nadenkend ons dit doen?
Is dit maar ‘n terloopse gebruik?
Mense kyk mekaar dikwels nie eers in die oë as hulle dit doen nie.
Ons weet ook ons kan voorspoed en seën toewens,
maar ons woorde opsigself kan dit nie bring nie.

Dit is dalk baie belangriker hoe ons teenoor mekaar leef,
en wat ons opreg vir mekaar kan bid en doen,
as wat ons mekaar sommer net onnadenkend toewens.
Paulus sê in Filippense 1:9:
“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal
toeneem in begrip en fyn aanvoeling.”
Is dit ‘n wens of ‘n gebed?

Om ander mense ons beste wense toe te wens bly goed.
Dalk sal dit nog soveel meer beteken as ons opreg vir mekaar bly bid!
Ons diepste gebed vir ons en hulle behoort te wees dat ons en hulle
met liefde sal optree sodat ons almal
“in die regte verhouding met God sal wees,
tot sy lof en eer.” Fil. 1:11.

Kom ons wees opreg in ons wense vir mekaar.
Kom ons bid ook opreg vir mekaar!
Kom ons doen regtig ook wat ons kan vir mekaar!

Ernest