Leef uit wat jy glo, en nie uit wat jy vrees,
of in angs, of onsekerheid beleef nie.
Wanneer jou beursie skielik soek raak dink jy aan die ergste.
Jy het dit verloor, met al jou kaarte, ID, bestuurslisensie ens. daarin!
Of jou rekenaar is nie meer in jou motor nie!
Is dit gesteel?
Het jy dit vergeet?
In sulke oomblikke oorreageer ons dikwels met vrees, angs, onsekerheid.
Dikwels ontdek jy dit was toe nie so erg nie…. en jy het onnodig gevrees.
Jy vind dit en is ientlik verleë…
Dawid beleef ook krisis en roep in Psalm 13:2 uit:
“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet,Here?
Vir altyd?”
Hy beskuldig sommer in hierdie woorde vir God van afwesigheid!
Hy verloor perspektief.
Ook wanneer ons intense emosionele oomblikke beleef,
kan ons gedagtes met ons op loop gaan.
Ons dink die situasie is erger as wat dit regtig is.
Hoeveel liedere het Dawid nie geskryf nie!?
En in die verwarring van die oomblik dink hy dat God hom vergeet!
Later, toe Dawid nagedink het,
oor wat hy gló, en nie wat hy vrees nie,
oor wat hy gló, en nie wat hy beleef nie,
het sy moedeloosheid in ‘n loflied verander!
Psalm 13:6:
“Ek hou vas aan U troue liefde,
oor die uitkoms wat U gee, juig my hart.
Ek wil sing tot eer van die Here,
omdat Hy aan my goed gedoen het.”
Onthou altyd Kol. 3:3:
“…julle lewe is saam met Christus verborge in God!”
Leef uit wat jy glo, en nie uit wat jy vrees nie….
Ernest