Wanneer jy die eerste keer met ‘n vliegtuig reis,
verwonder jy jou aan die belewenis daarvan.
Hoe jy opstyg, deur die wolke beweeg, hoër en hoër,
totdat dit later soos ‘n wit wolkombers onder jou lê.
Jy verwonder jou hoe klein alles daaronder word.
Jy verwonder jou aan ‘n sonsopkoms,
of sonsondergang, bo die wolke.
Die tweede keer en derde keer is dit steeds so.
Totdat jy ‘n gesoute reisiger raak.
Jy neem sommer gou jou slaappil, en slaap die hele vlug deur.
So raak dit ook vir party mense in hul geestelike reis.
Hul raak “gesoute reisigers” op hul pad saam met die Here,
en verloor belang.
Niks is meer ‘n verwondering nie.
En ons verloor selfs die wonder van ons verlossing!
Die Woord wat eens so belangrik was, en wat ons inspireer het,
word oninteressant en akademies.
Ons begin met ons verstand bid,
en nie meer vanuit ‘n verhouding met die Here met ons hart nie.
Petrus het reeds die vroeë volgelinge van Christus gemaan,
om steeds toe te neem in geloof, kennis, selfbeheersing,
volharding, godsvrug, en liefde – 2 Pet. 1:5-7.
Hy sê dan in vers 8:
“As julle dit alles besit en dit neem steeds toe,
sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus beter leer ken.”
Mag ons nooit “gewoond raak” aan die genade van God,
en aan ons verlossing,….en aan die Here self nie!
Mag ons nooit die wonder en verwondering daarvan verloor nie.
Mag ons voortdurend groei in Christus en in ons kén van God.
Mag ons leef in ‘n al hoe meer verdiepende liefdesverhouding met die Here.
Bly vasgevang in die genade en liefde van God vir jou!!
Leef in verwondering daarmee saam, elke dag!
Ernest