Sondag of sabbat?
Daar word baie gewonder en gedebatteer oor die sabbat en die Sondag. Daar is selfs kerke wat hulle hele identiteit op die sabbat bou. Is die sabbat en Sondag dieselfde? Moet ons nog die sabbat wetties vier? Geld die sabbatswette nog? Waarom vier ons Sondag? Wat behoort ons op Sondag te doen of nie te doen nie? en so kan ons aangaan. Twee gedeeltes wat my nogal as christen-gelowige help is Markus 2:23?28 en Kolossense 2:16-17. Markus vertel dat Jesus [wie se opstanding ons elke Sondag vier] Here oor die sabbat is en Kolossense waarsku ons dat mense ons nie moet mislei om terug te val op die wettiese gebruik van die sabbat nie.
Wat sê die Woord?
Markus 2:23-28 vertel ‘Eenkeer toe Jesus op ’n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die sabbatdag gedoen mag word nie?” Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”’
Kolossense 2:16-17 waarsku: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie ?of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”
Wet: 4e gebod
Ons as Christene hoor gereeld op Sondae die wet van die Here. Hoe Hy wil hê dat ons sal lewe. En dikwels hoor ons dan ook die vierde gebod: "Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie en ook niemand in jou huishouding nie...want die Here het in ses dae die hemel en aarde gemaak en alles daarop. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as 'n gereelde rusdag geheilig."
Sewende dag anders
M.a.w. dis duidelik dat die sewende dag anders was (is) en moet wees as die res van die week. En dan wonder ons daarby wat ons dan nou op die Sondag mag doen of nie mag doen nie. Mag mens gaan swem of gaan fliek of dalk gaan krieket kyk op 'n Sondag?
Sondag is nie die Sabbat nie
En dan is dit belangrik om te onthou dat die Sondag nie presies gelyk aan die sabbat is nie. Die Jode het en doen dit vandag nog, die sabbat op Saterdag gehou. Oorspronklik was die instelling van die sabbatgegrond op die skepping. God het in 'n sekere tyd die heelal geskep en toe het Hy gerus. En so het Hy ook die reëlmaat vir die mens daargestel: Werk ses dae en rus een dag!
Skepping en later paasfees herdenk maw verlossing
Mettertyd egter het die Jode aan die sabbat nog ander betekenis begin gee. Net soos die pasga, of soos ons dit ken, die paasfees teruggewys het na die verlossing uit Egipte, het hulle ook begin om die gebeure te herdenk op die sabbat. M.a.w. nou het dit al oor die skepping en oor die verlossing gegaan.
Allerlei wette
Allerhande (belaglike) wette het ook rondom die sabbat ontstaan soos bv. dat jy nie iets met 'n gewig swaarder as die gewig van 'n vy mag ronddra op 'n sabbat nie, of dat jy nie langer as 'n sekere distansie op 'n sabbat mag gereis het nie. Jesus het Hom dan ook teen sommige van die reëls en regulasies van die sabbat verset. Sy dissipels het bv. are uitgevryf en geëet op die sabbat en Hy het selfs mense gesond gemaak op die sabbat, wat in sy teëstanders se opinie ’n oortreding van die vierde gebod met al hulle wettiese bepalinge was.
Jesus nuwe inhoud – die wet vervul...
Jesus het gekom om die wet te vervul; om aan die wet nuwe inhoud te gee. Die Sondag daarenteen is nie ingestel as 'n opeenvolging van die sabbat nie, maar as 'n dag met sy eie karakter. Baie belangrike dinge het op die Sondag gebeur; die Heilige Gees is o.a. op Sondag uitgestort. Die belangrikste saak egter, en dit is wat ons elke Sondag vier; is die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Die oorwinning wat Hy oor die dood, sonde en bose behaal het! Dit gaan oor die betekenis wat Jesus Christus gehad het en ook aan die Sondag kom gee het. Sondag gaan dus nie soos die sabbat oor die Jode se verlossing uit Egipte nie, maar oor die veel groter verlossing van die mensdom se sondigheid en verlorenheid deur Jesus se dood en opstanding.
Skeiding/ooreenkoms sabbat en Sondag: Skepping, Verlossing en Herskepping
Daar het dus 'n verskuiwing gekom tussen die sabbat en die Sondag. En tog dink ek dat die Sondag ook soos die sabbat gegee is na aanleiding van die skepping van die hemel en aarde. M.a.w. die Sondag is gebasseer op die skepping van God en op die verlossing van God, maar ook op sy herskepping. Christus het waarlik die sabbat kom vervul en so is die Sondag ingestel. En die Heilige Gees, wat op Pinkstersondag uitgestort is, maak van jou en my nuwe mense na die beeld van Jesus! Sondag gaan dus oor die viering van God Drie-enig: God die Vader as Skepper, Jesus Christus as Verlosser en die Heilige Gees as Herskepper na God se beeld!
Wat mag ons?
Maar nou is die vraag,wat mag mens dan nou doen en wat mag jy nie? Mag jy op die dam gaan ry met 'n boot? Mag jy gaan visvang? Mag jy by die vlooimark gaan rondstap en goed koop? Mag jy jou maandelikse inkopies op Sondag doen? Wat van fliek of ysskaats?
Eerder vra, wat behoort ons!
Ek dink ons benader die saak dikwels in 'n negatiewe sin. As ons vra wat mag jy doen en wat mag jy nie doen nie, is ons waarskynlik reeds op ‘n verkeerde spoor. Jesus en die Fariseërs het ook gereeld oor die mag en mag nie van die sabbat vasgesit. Ons moet die saak eerder positief en minder selfsugtigbenader en vra: wat behoort ek op 'n Sondag te doen? Wat verwag God van my? En dan moet ons onthou dat die vierde gebod tog deel is van die hoofgebod nl. om God lief te hê. Hoe ons dus die Sondag vier, sê iets van ons verhouding met God!
God op ‘n spesiale manier eer
Die eerste saak wat God van my verwag en wat 'n kind van God op Sondag behoort te doen, is om Hom te eer. Op 'n spesiale manier te eer. Dit beteken nou nie dat mens die Here nie elke dag hoef te eer nie, maar dit beteken wel dat Sondag die toppunt en die hoogtepunt is van eer aan God. Sondag is 'n dag waarop die Christene saamkom om fees te vier en te juig oor die verlossing in Jesus Christus. Dit is ’n familiefees saam met ander gelowiges as die huisgesin van God met Hom as die Hoof en Gasheer. En dis nie 'n swaar plig of las wat op ons as Christene rus nie; dis 'n voorreg om dit te kan doen!
Die eerste Christene al
En hierdie gewoonte onder die Christene kom al baie eeue. Die eerste Christene het dit al gedoen. Onthou, hulle Sondag was nie 'n vakansiedag soos ons s'n nie. Hulle het vroeg in die oggend voor werk en laat in die aande na werk bymekaargekom op Sondae. Ek wonder hoeveel van ons sou dan die erediens bygewoon het? Eers toe Christenskap staatsgodsdiens geword het in die Romeinse ryk onder keiser Konstatyn, het die Sondag ’n af-dag geword.
Die dag van die Here
Sondag is dus die dag van die Here waarin 'n kind van God Hom spesifiek moet loof en prys en waarin die gelowiges saam die Here moet dank vir die verlossing wat Hy deur sy dood en opstanding aan ons gebring het.
En hoe loof en dank ons die Here op Sondae? Deur o.a. kerk toe te gaan. (Dalk moet ons eerder sê, deur eredienste by te woon, want ons is die kerk! Deur in die erediens God te gaan loof en eer. Deur in die erediens saam met medegelowiges fees te vier oor die verlossing in Christus. Maar nie net deur kerk toe te gaan nie; ook deur dinge soos kategese, jeugaksies, persoonlike Bybelstudie en deur na te dink oor God en jou verhouding met Hom. Soms verstaan die kleiner kinders nie die preek nie, en dan is Sondag die ideale geleentheid vir ouers om dit aan jou kind te verduidelik. In elk geval, op baie maniere, meer as net ‘kerk toe gaan’, behoort die Here op Sondag geëer te word.
Naastediens
Die tweede saak wat die Here van my verwag, is naastediens. Nie alleen het Jesus vir ons hier 'n duidelike voorbeeld gestel met al sy genesings op die sabbat nie, maar my verhouding met my medemens sê ook baie oor my verhouding met God! Watter beter dag is daar nou om liefde aan my medemens te betoon? Nie net die gemeenskap van die gelowiges by die kerk nie, maar spesifiek ook mense wat swaarkry en hulp nodig het. Jesus het baie mense op die sabbat gehelp. Ons kan ook baie mense op Sondag help.
Waar kry mens dan 'n beter dag as Sondag om vir iemand wat siek is te gaan kuier; of om iemand wat hartseer is te gaan opbeur; of dalk om iemand wat eensaam is, bietjie geselskap te hou. Ons moet onthou, Sondag is die dag van die Here, en daarom moet ons versigtig wees dat ons nie te selfsugtig raak met Sondag nie en dan maak asof Sondag net om ons draai nie.
Rus [sabbat]
Die derde saak waaroor Sondag gaan kom duidelik uit Markus 2 uit asook uit die gedeelte van die wet wat ons so dikwels hoor. Die Sondag is ook vir die mens gemaak om te ontspan. Om bietjie weg te kom van ses dae se harde werk en besig wees. Om bietjie tyd as gesin en vriende met mekaar deur te bring. Om te herlaai vir die volgende week wat voorlê. En daar is baie maniere waarop ‘n mens kan ontspan. Party mense vat 'n middagslapie na ete. Ander gaan stap of gaan swem selfs. Party gaan speel tennis en ander gaan drink koffie by familie of vriende.
Bly gebalanseerd
Ongelukkig is hierdie derde saak dikwels die plek waar die hele Sondagsviering uit verband geruk word. As mens maak of lewe asof die Sondag net daarvoor is. M.a.w. as jy heeldag dam toe gaan of heeldag in die bed bly en laat slaap of wat ook al. In baie van die goed wat ons verkeerd doen op 'n Sondag, lê die verkeerd nie spesifiek in die saak nie, maar in ons gesindheid en in 'n gebrek aan balans. Om op 'n Sondag te slaap of te swem is sekerlik nie verkeerd nie, maar die vraag is of jy ook die ander twee eise van Sondag nagekom het? Het jy op 'n besondere manier die Here geëer en saam met medegelowiges oor die verlossing gejuig en het jy liefde aan jou medemens betoon? Of leef jy dalk net selfsugtig op Sondae?
Ons het rus nodig!
As die Here die sabbat en ook die Sondag ingestel het o.a. vir die mens om te rus, het Hy dit gedoen omdat die mens dit nodig het. Dan het Hy nie bedoel dat die mens nou 'n sewende werksdag kry waarin hy al sy dinge kan doen wat hy moet nie. Dan het Hy nie bedoel jy moet vir Sondag wag en dan jou maandelikse inkopies gaan doen nie. Dan het Hy nie bedoel jy moet joutuinwerk doen wat jy nie Saterdag kon doen omdat jy rugby gekyk het nie. Die Sondag is o.a. vir die mens gegee om te rus en dan moet mens dit ook doen. Dan moet pa bietjie afskakel en aandag aan ma en die kinders gee. Dan moet boetie en sussie bietjie wegkom van die boeke af. Daar is 'n goeie rede hoekom God hierdie dag ook vir die mens gegee het; sodat hy/sy nie moet uitbrand nie. Net om so bietjie asem te skep en voor te berei vir die volgende skof wat voorlê.
Ons sal moet besin oor hoe ons Sondag inrig. En ons moet verder kom as om selfsugtig lysies op te stel van wat ek mag doen of wat ek nie mag doen nie. Ons moet eerder vra: Wat behoort ek op Sondag te doen? Wat verwag die Here op 'n Sondag van my?
Drie beginsels in balans
En dan is daar die drie beginsels wat ek op Sondag gebalanseerd moet nakom. Die eerste is om God op 'n spesiale manier te loof en te prys en om waarlik saam met medegelowiges die Here te loof en dank en te juig oor die verlossing wat Hy vir ons gebring het. Om elke Sondag die opstanding van die Here te herdenk en uit te leef. Die tweede beginsel is dat ons ook vir ons medemens iets sal beteken op Sondae. Dat ons eensames, siekes, hartseer mense en mense wat hulp nodig het sal besoek en aan hulle liefde en hulp sal gee. En die derde beginsel is dat ons ook bietjie sal wegkom van die roetine elke dag van die week en dat ons werklik sal rus en ontspan en so weer sal herlaai vir die week wat voorlê. Dat ons ook as familie en vriende sal bymekaar kom en die bande wat tussen ons is, sal verstewig. Dat Sondag ook 'n gesinsdag sal wees waarin ons nie net die Here saam loof nie, maar waarin ons ook nader aan mekaar kom.
Kom ons hou op om te vra, mag dit of mag dat? Kom ons begin bloot hierdie drie beginsels op 'n Sondag na te kom, en dan sal ons ook die Sondag vier soos wat 'n kind van God behoort te doen! Ons begin elke week met die voorneme om God elke dag te eer, maar om dit op 'n spesiale manier te doen op Sondae, deur dit te doen wat Hy van ons vra, met die versekering dat die genade van ons Here Jesus Christus wat ons verlos het, die liefde van God wat ons geskep het en die gemeenskap van die Heilige Gees wat ons nuut maak, met elkeen van ons sal wees!
Geniet Sondae in sy Naam!