Rentmeesterskap

Die onderstaande was ‘n stuk voorbereiding wat ek aanvanklik gedoen het t.w.v. ‘n program op Kruiskyk oor tiendes en offergawes. Ek sou dit egter eerder as rentmeesterskap wou klassifiseer. In hierdie artikel probeer ek dit verwerk sodat dit jou en my in hierdie saak nader aan God se wil kan bring.

Ek begin met ‘n paar kritiese uitgangspunte en probeer dan spesifieke vrae antwoord oor rentmeesterskap. Dit is sekerlik nie ‘n volledige uiteensetting van die saak nie, maar dit behoort jou ten minste te laat dink. Lees dit gerus en besluit wat jy op grond van God se Woord en wil hieroor dink en sou antwoord. (En net so terloops: miskien dink jy dat God nie oor geld in die Bybel praat nie – gaan tel maar gerus! Daar is meer as 140 verse in die Bybel oor geld spesifiek, wat oor die 300 word indien jy goud en silwer daarby sou tel!)

1. Het God ons geld nodig? Behoort alles nie in elk geval aan Hom nie?

Natuurlik behoort alles aan God, die aarde en die volheid daarvan – die vee op duisende berge is syne. Maar dit gaan oor die manier waarop God sorg en voorsien. God kies ons as mense om deur ons te werk – net soos wat Hy sy boodskap van genade (Evangelie) deur mense laat uitdra, kies Hy ons as mense om sy koninkryk te finansier – want ons is syne en deel van sy koninkryk! Party mense dink dat geld vir God se werk en koninkryk uit die lug val, maar die geld is in ons sakke! God is wel nie afhanklik van ons nie, maar dit is hoe Hy werk; hoe Hy kies om te werk. Hy wil deur ons werk!

Neem bv. die eerste gemeente in Handelinge 4:32-35 Niemand het gebrek gely nie. Hulle alles verkoop en uitgedeel! Niemand het gebrek gely nie. Dit het nie oor ‘n regeringstelsel gegaan nie, maar oor die rentmeesterskap van elke gelowige!

2. Dis maar `n gesukkel om gelowiges met blymoedigheid en oorgawe te laat gee. Waarom is die beursie die “laaste om tot bekering” te kom?

Ek dink daar is twee redes:

1. Ons verstaan of erken nie die koningsheerskappy van Jesus nie en daarom ook nie ons rentmeesterskap nie. Ons verstaan God se seën verkeerd (selfsugtig) – ons dink Hy seën ons omdat dit oor ons gaan, maar Hy seën altyd sodat ek en jy tot seën kan wees. Hy stel regtig nie belang in ons gerief of gemak nie, maar in ons diensbaarheid en belegging (hele lewe) in sy koninkryk – in hoe ons gevorm en geslyp word as rentmeesters.

2. Ons is geldgierig en wil God én mammon dien – ons kyk die gevaar van geldgierigheid en materialisme mis! 1 Timoteus 6:10 waarsku nie verniet dat geldgierigheid die wortel van alle kwaad is nie! En hoekom dink jy is mammon omtrent die enigste afgod wat op sy naam in die Nuwe Testament genoem word? Baie mense dwaal hierdeur van hulle geloof af. Gaan lees gerus die hartseer verhaal van die ryk jongman in Matteus 19:16-30.En moenie dink dit is net ryk mense wat deur geld verblind word nie!

3. Hoeveel behoort aan die Here? Geld die tiende beginsel nog vandag? Is dit nie `n ou Testamentiese/ou verbond/werke en verdienste paradigma nie?

Daar is ‘n ware spreekwoord wat sê: “‘n Goeie Jood gee ‘n tiende, ‘n ware Christen gee alles!” Jy sien, alles wat ons is en het behoort aan die Here! Ons vra die vraag verkeerd-om: Die vraag is nie eintlik hoeveel moet ons vir God gee nie, maar wat mag ons vir onsself hou?

Persoonlik dink ek die beginsel van die tiende geld vandag wel, maar dan nie as ‘n wettiese beginsel nie, maar as ‘n deeltjie van ons antwoord op God se genade. Mense kan lekker stry oor tiendes, netto of bruto, tyd, geld en energie, maar is die Here regtig op jou begroting? Of ly die eer van sy Naam, sy koninkryk en jou medemens skade omdat jy eerder jou eie selfsugtige lewenstyl finansier?

Ons het die verantwoordelikheid én die voorreg om die huis van die Here, wat in Nuwe Testamentiese terme sy kinders (gemeente) is, in stand te hou.

Jesus sê in Lukas 12:33 vir die ryk jongman “Gaan verkoop alles!” En vroeër in Lukas 12 praat Hy van die dwaas wat alles vir homself opgegaar het en toe eis God sy lewe! Dit is nogal ‘n waarskuwing wat ek en jy deeglik sal moet oorweeg. Matteus 16:26 sluit hierby aan: “Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?”

4. Waar moet Christene gee? Het lidmate `n verantwoordelikheid teenoor die plaaslike gemeente (is dit ‘n eerste prioriteit) voordat vir ander sake gegee word?

Verseker! Ek dink ‘n mens sal kan onderskei tussen dankoffers en tiendes – tiendes is die verpligting en voorreg wat ons het om die Here se huis/huisgesin in stand te hou. Dit sluit eredienste en gemeentelike bedieninge ens. in. ‘n Dankoffer is dit wat ons buiten dit gee.

Dit mag vir jou ontstellende nuus wees, maar wanneer jy jou tiende gee, het jy eintlik nog niks spesiaal gedoen of ‘n offer gebring wat jou iets kos nie! Wanneer jy dankoffer bo dit gee, is dit werklik ‘n offer. In die Ou Testament was die gee van tiendes spesifiek vir die instandihouding van die tempel en die tempeldiens (o.a. die priesters). En dit is hartseer dat die kerk van Jesus (ook ons as gemeente) finansieel sukkel omdat jy en ek nie ons verantwoordelikheid nakom nie!

Natuurlik gaan bydraes ook oor die koninkryk van God, maar jy as ‘n gelowige lidmaat deel in die geestelike voeding en verantwoordelikheid in ‘n spesifieke gemeente en behoort ook daar by te dra (tiendes). Jou dankoffers gaan dan na ander koninkrykswerk buiten jou geestelike tuiste.Wat my bang maak is dat ons soms dink dat as ek my ouers of kinders help, ek nie meer my verantwoordelikheid teenoor God en sy gemeente hoef na te kom nie!

5. Ons leef in uitdagende tye veral wat finansies betref. Sal God verstaan as `n mens “minder” gee omdat jou begroting nie balanseer nie?

God se genade is groot, Hy verstaan altyd! Dis egter nie noodwendig ‘n troos nie, want Hy weet ook as ons ‘n lewenstyl kies en handhaaf wat dit vir ons moeilik of onmoontlik maak om tiendes te gee. Dan kan daar ‘n punt kom wat ons verskonings hol en leeg voor God is. God verstaan ons krississe en nood, maar as ons voortgaan om ‘n selfgerigte en onverantwoordelike lewenstyl te handhaaf, dink ek Hy sal ons verantwoordelik hou. Erens moet ons mos begin om darem in die rigting te kan werk om vir God te gee wat Hom toekom? Of hoe?

Vir my is dit soms asof mense van God ons Vader wat vir ons sorg, verwag om vir ons broers en susters te sorg, maar ons verstaan nie dat Hy ons juis seën sodat Hy deur ons vir hulle kan sorg nie! En buitendien, God tel nie, Hy weeg! Ek en jy kan Hom nie beïndruk of ‘spite’ met wat ons gee of nie. Hy kyk spesifiek na die gesindheid van ons hart. Lees gerus die verhaal van die weduwee met die twee oortjies (munte) in Markus 12.

6. Is die saai en maai beginsel nie maar eintlik `n vorm van manipulasie (asof `n mens God kan manipuleer) nie?

Ja, dit kan baie maklik so wees. Ons menslike natuur is selfgerig en daarom gee ons baie keer sodat ons kan terugkry! Ons noem dit die ‘voorspoedsteologie’ of sommer bloot ‘blatante selfsug’. As ons gee, sal God ons seën – wat natuurlik so is! Maar dié seën beteken nie noodwendig voorspoed of finansies nie – die seën beteken vorming en posisionering sodat jy tot seën kan wees van ander – in God se Naam; want dit gaan om God! Die Here belowe dat Hy vir ons sal sorg – sal gee wat ons nodig het, nie wat ons wil hê nie! Lees gerus wat eis Hy in Matteus 6:25-33. Ons sal moet leer onderskei tussen behoeftes en begeertes!

Die Here sê wel dat ons moet Hom toets (vertrou), nie dat ons Hom moet manipuleer nie! En soms toets Hy ons ook. Sal ek regtig alles vir Hom gee? Is Hy werklik die belangrikste in my lewe? Glo ek regtig Hy is die Eienaar van alles wat ek is en het? Is ek bereid om alles te gee – soos die weduwee met die twee oortjies so dun soos papier wat die meeste ingegooi het (Markus 12).

Soms dink ek die Here maak ons los van materiële – Hy is nie ingestel op ons gerief of gemak nie, maar op ons karakter, diensbaarheid en getuienis. Dink maar aan Hebreers 13:5 wat sê: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie”.

Ten slotte

Ek sien rentmeesterskap vanuit ’n Nuwe Testamentiese perspektief. Daar is baie skrifgedeeltes wat hieroor handel, maar spesifiek vier skrifgedeeltes wat my uitgangspunt anker:

Romeine 12:1: "Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is". En dan sê hy ook nog: “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen!"

Vir ons is ‘n lewende offerpraktyk dus nog steeds die kern van ons diens aan God, al leef ons nie meer in die Ou Testamentiese tyd nie! Om jouself te gee! Dt is die belangrikste van ons verhouding met God! Dit beteken alles wat ek is en het word toegewy aan God!

1 Petrus 1:17 sê “Leef in eerbied teenoor Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in hierdie wêreld”. Ons is rentmeesters, God se voormanne; sy bestuurders wat sy eiendom namens Hom administreer en hanteer.

Rentmeesterskap gaan eintlik oor ons integriteit as kinders van God: Lukas 16:10-15 stel dit baie kras: “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in die groot dinge oneerlik. As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?

En dan die dringende waarskuwing en ontnugterende besef: Matteus 6:24: “Jy kan nie God én mammon dien nie!” Dit beteken jy sal ‘n keuse moet maak. Of jy dien God, of jy dien geld – jy kan nie vir altwee gaan nie!

Wie/wat dien jy?