Psalm 19:2 sê: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Ons jeug het die 15de Junie gesien wat met hierdie vers bedoel word. Hulle het saam met 'n groep volwassenes by die Hartebeesthoek-radio-observatorium gaan kuier, waar hulle ook oorgeslaap het - vir Jeugdag. Die twee dae was vol opvoedkundige pret en bewondering - Bewondering vir God se skepping!
Die dag het begin met 'n les oor hoe om tyd te bepaal. Nie met 'n horlosie nie, maar met die son! 'n Paal word regop geplaas en 'n gradeboog om dit getrek. In plaas van grade word daar dan tye opgeskryf. Soos die son opkom en weer sak, skuif die paal se skaduwee. Die tyd word dan bepaal deur die posisie van die skaduwee op die gradeboog. Die gradeboog word aangepas by die seisoene, sodat die sonhorlosie akkuraat bly. Dit herinner aan Gen 1:14, waar God die son, maan en sterre gemaak het om te dien as ligbronne, maar ook as 'n manier om die tyd te bepaal.
Daarna het ons jeug almal "rocket scientists" geword. Die vuurpyle wat hulle moes lanseer, was uit koeldrankbottels gemaak en het met lug en water gewerk. Dit is op 'n "lanseerplatvorm" geplaas en dan vol lug gepomp totdat dit in die lug opgeskiet het van te veel druk. Die oefening was bedoel as 'n fisikales. Dit demonstreer hoe Newton se tweede en derde wette saamwerk om stukrag aan die vuurpyl gee. Volgens Newton se tweede wet is die versnelling van die vuurpyl proporsioneel tot die krag wat daarop uitgeoefen word (deur die lug- en waterdruk). Die derde wet stel dat daar vir elke aksie 'n reaksie moet wees. Met ander woorde, vir elke krag wat op die vuurpyl uitgeoefen word, is daar 'n ewe groot krag wat in die teenoorgestelde rigting uitgeoefen word. Deur die waterdruk in die vuurpyl word daar in elke rigting krag uitgeoefen en so kanselleer die kragte mekaar uit, behalwe onder aan die vuurpyl waar die water uitgaan. Omdat die onderkant van die vuurpyl nie die krag wat bo uitgeoefen word, uitkanselleer nie, versnel die vuurpyl na bo volgens Newton se tweede wet. Die kompleksiteit van die wette en die vuurpyl getuig weereens van die grootheid van ons Skepper.
Die aand het ons groep 'n toer deur die observatorium gehad. Die sterrekundiges het aan hulle verduidelik hoe die radioteleskoop werk, maar ook hoe hulle hul werk doen. 'n radioteleskoop verskil van 'n normale teleskoop daarin dat dit nie visuele lig opvang nie. Dit "sien" die sterre, en ander hemelliggame, deur die radiogolwe (en ander golflengtes) wat dit uitstraal. Deur hierdie metode kan sterrekundiges baie dieper in die ruimte sien as met 'n normale teleskoop. Nog 'n instrument wat by die observatorium gebruik word, is 'n laser wat die hoogte van sateliete meet. Die laser stuur 'n pols na die sateliet toe en meet dan die tyd wat dit neem vir die pols om te terug te reflekteer. Omdat lig teen 'n konstante spoed beweeg, is die tyd wat dit neem om tussen twee voorwerpe (die sateliet en die observatorium) te beweeg 'n akkurate aanduiding van die afstand. Die groep het die geleentheid gehad om die instrumente van naby af in aksie te sien.
Al die toerusting en instrumente is aan 'n sentrale rekenaarkamer binne die observatorium gekoppel vanwaar die sterrekundiges hul werk doen.
Met behulp van die planetarium kon ons groep leer waarom ons dag en nag, winter en somer op aarde het. Daar was ook 'n model van die maan waarmee hulle die oppervlak van die maan kon aanskou. Maar dit was nie net oor die buitenste ruim waaroor ons groep geleer het nie, m.b.v. 'n model van die aardbol kon die sterrekundiges hulle na die aarde laat kyk vanuit 'n hemelse perspektief. Ons groep het ook geleer oor die wentelbane van die aarde en die maan, sowel as verskeie sterre-formasies.
Hulle het ook 'n film gekyk van ruimte-ontdekking. Wat alreeds ontdek is, hoe ontdekkings plaasvind, ens. Dit is wonderlik om te hoor watter groot afstande en massas van gepraat word in sterrekunde, dit herinner weereens aan die grote van ons Skepper. Hierdie feit was nog meer beklemtoon toe daar 'n skaal model van die sonnestelsel opgestel is. Daardeur kon ons groep sien hoe ver en hoe groot die ander planete in vergelyking met die aarde eintlik is.
Uiteindelik kon die groep self na die sterre kyk deur verkykers en teleskope. Dit was 'n goeie noot om die dag mee af te sluit.
Die volgende môre moes die sterre eers wag, dit was tyd om te eet. Daarna het ons groep met teleskope na die son gekyk. Nie direk nie! 'n Teleskoop word na die son gerig, dan word die punt waar 'n mens moet inkyk as 'n dataprojektor gebruik om 'n beeld van die son op 'n doek te projekteer. 'n Hele kaart van die son kan dan op die doek gesien word. Dit is interessant om te weet dat die son nie net 'n ronde bal vuur is nie. Daar is ast'ware "donker kolle" op die son. Dit is net donker in vergelyking met die res van die son, maar dit is nog steeds veel helderder as 'n volmaan.
Daar was nog tyd om vuurpyle te skiet en vir die groep om hulself te geniet, wat hulle ook gedoen het, voordat hulle huis toe vertrek het.
Ons dank die Here vir die geleendheid, en ook dat almal veilig terug gekom het. Dit is wonderlik hoe groot ons God is, soos die sterre weereens bewys het.
Onder is 'n paar foto's oor die uitstappie.
<<<<<<<Sit in Foto's!>>>>>>>