Kleingroepnota (pdf)

1. Lief en leed - Deel met mekaar julle lief en leed en wat julle Sondag met die eredienste getref het.

2. Ingenooi in God se rus en tyd – Wanneer ons stil word in stiltetyd, ‘n omgeegroep of ‘n erediens, is dit nie om God te nooi om tog by ons te wees nie, maar die erkenning dat ons (saam) in God se teenwoordigheid is! Hy is klaar hier! Hy nooi ons in sy teenwoordigheid in. Ons leef elke oomblik in sy teenwoordigheid, maar in ‘n groep of erediens vergader ons saam as sy huisgesin! Dank God dat Hy hier en nou by ons teenwoordig is!

3. Luister na God se Woord – Lees 1 Petrus 3:8-18 hardop voor. Wat tref jou met die eerste oogopslag?

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink en gesels oor die volgende: Hoe positief of negatief is mense in die samelewing deesdae. Dink aan gesprekke wat jy hoor, opmerkings wat gemaak word ens. Is mense hoopvol of mismoedig? Deel met mekaar hoekom julle dink dit so is. Wat is dit wat mense die meeste pla? Armoede? Onreg? Korrupsie? Of dalk die onverstaanbaarheid en selfs ‘onregverdigheid’ van die lewe? Wat maak jou negatief of depressief. Wat kry jou onder?

5. Luister weer na die Woord – Lees nou weer 1 Petrus 3: en Klaagliedere 3: 18-25 en 34-36. Die gedeelte is ‘n oproep om as hoopvolle, gehoorsame kinders van God te lewe te midde van  stukkende mense, moeilike omstandighede en selfs in onreg en lyding. Die deel in Klaagliedere begin met die belewenis van iemand wat in ’n doodloopstraat is – iemand wat geen hoop meer het nie - wie se gedagtes vasdraai en wat selfs in God se hulp en teenwoordigheid begin twyfel. MAAR tog kies die skrywer om te bly hoop. Hoekom? 1. Die liefde van die Here wat maak dat hy en sy volk nie vergaan het nie. 2. Die geloof en vertroue dat God getrou is en ons nie sal los nie. 3. Die belofte dat God vir ons sorg en dat Hy goed is vir hulle wat hulle hoop in Hom plaas. Daar is ook sprake van onreg en onregverdigheid, maar ook van God se sorg en vergelding op sy tyd en manier. Petrus vertel dat swaarkry (lyding) en onreg weliswaar oor kinders van God se lewe sal kom, maar dat ons nogtans iets, of eerder, Iemand het op Wie ons kan hoop! En waarvan ons kan getuig!

6. Fokus op wat God doen – In beide die gedeeltes is daar sprake van die mens se onmag en pyn, mismoedigheid en wanhoop. Maar teenoor dit staan God se versorging, vergelding en wil. Sy liefde en trou en sorg ten spyte van omstandighede, gebrokenheid en pyn. Jesus se onregverdige lyding het vir ons lewe gebring. En al verstaan ons dikwels nie die pad of plan van God met ons lewens nie, veral nie wanneer dit worsteling en pyn inhou nie, weet ons Hy stap met ons ’n pad en dit is ’n goeie pad! Deur pyn en worsteling trek Hy ons en ander nader aan Hom en sy wil.

7. Antwoord met ons lewe – ’n Kind van God leef ’n lewe van hoop en moed – nie omdat dit uit onsself kom nie, maar omdat God ons Hoop is wat ons vashou en versorg. Waar daar lewe is, is daar hoop en waar daar HOOP is, is daar lewe! Waar God is, is lewe! Kom ons gaan lewe dan met blymoedigheid en vrymoedigheid voluit in die teenwoordigheid van die Here, want deur sy liefde het en sal ons nie vergaan nie!

8. Bid nou saam – buig in stil gebed voor die Here.

  • Bring voor die Here alles wat jou in die land en wêreld en ook in jou persoonlike omstandighede pla.
  • Watter dinge laat jou twyfel of maak dit vir jou moeilik om God se wil te verstaan? Praat met die Here daaroor.
  • Praat nou met die Here oor die mense in jou lewe teenoor wie jy kan gaan getuig oor die Hoop in jou lewe en vra Hom om jou daarin te help.