In Eksodus 33:17 praat God van ‘n besondere verhouding met Moses:
“Die Here het vir Moses geantwoord:
“Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.”
Wat ‘n verhouding!
In die Ou-Testament verskyn God telkens in vuur, rook en donkerte.
Die natuurelemente word die boodskappers van sy aankoms.
Voor Hom bewe die aarde, en wyk die berge.
Omdat dit dikwels so in die Ou-Testament gebeur,
mag by ons die gedagte ontstaan dat God die Vader die streng Regter is,
en toornige God is, terwyl Jesus Christus liefde en genade verpersoonlik.
Niks is verder van die waarheid as dit nie.
Daar is geen eienskap van die Vader, wat nie in die Seun is nie.
Daar is geen woord of handeling van die Seun, wat nie van die Vader kom nie.
“Ek en die Vader is een”, sê Jesus in Johannes 10:30.
Soos die Seun, is die Vader “ryk in barmhartigheid, en het ons innig lief.
Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings,
saam met Christus lewend gemaak.” – Ef. 2:4-5.
God doen dit! Deur sy groot liefde!
Eksodus 33 vertel ons ook van God wat innig liefhet.
Ons lees van Moses as ‘n mens met baie foute.
Hy het ‘n moord agter sy naam. Raak depressief.
Verwyt God oor die verantwoordelikheid op hom gelê.
Tog beskou God vir Moses as sy kind.
Moses vertrou God ten spyte van alles. Hy vra God se raad.
Hy praat gedurigdeur met God. Hy het dieselfde belange as God.
Hy wil nie sonder God voortgaan nie.
Wat ‘n besondere verhouding om in te wees.
Maar dit is wie God vir élke kind van Hom wil wees!
God skep behae daarin om so ‘n verhouding met jóú te hê!
Ons hoef nie soos Moses te pleit om God te mag sien nie…
Handelinge 22:14 sê, as Nuwe-Testamentiese gelowiges,
is ons, soos Paulus, uitverkies,….
“om sy wil te ken, die Regverdige te sien, en sy stem te hoor”.
Wat ‘n verhouding!
God…en jy!
Ernest