Laai hierdie af in pdf formaat. (Om dit te druk)


1. Lief en leed – Deel met mekaar die lief en leed van die afgelope paar weke asook wat jou Sondag met die eredienste getref het. Nadat julle gehoor het hoe dit met elkeen gaan, kan julle die Here loof en aanbid met ‘n paar liedere en/of gebede. Doen moeite om die Here in julle gebede te dank vir sy genade van elke dag. Gesels dan oor hoe ‘n mens gewoond raak aan God se goedheid en guns en oor dinge wat ons as so vanselfsprekend elke dag aanvaar.

2. Ingenooi in God se teenwoordigheid - raak rustig in God se teenwoordigheid, en bid saam.

3. Luister na God se Woord - Lees in Johannes 2 die verhaal van die Bruilof in Kana. Let mooi op wat daar gebeur. Dink ‘n bietjie aan hoe ’n huweliksbevestiging normaalweg in ons tyd en dag verloop en hoe dit destyds was. Wat is die ooreenkomste en verskille? Gesels dan ook oor die verhoudings wat hier ter sprake kom. Wat leer ons uit die dissipels se optrede, Maria se optrede en Jesus s’n?

4. Luister na mekaar en die wêreld – Dink, gesels en deel wat jy van jou huweliksbevestiging onthou en wat julle opgeval het by die laaste huweliksbevestiging waarby jy was. Hoe het die maniere en plekke van huweliksbevestiging verander van toeka tot nou?

5. Luister verder na die Woord van God – Lees weer Joh. 2:1-11. Staan stil by die gesprek tussen die seremoniemeester en die bruidegom. Soos in ons tyd waarskynlik ook, moes die bruidegom en/of sy familie instaan vir die drinkgoed. Wat sê die seremoniemeester vir die bruidegom oor die goeie wyn? Dit bring ons by die verwagting van mense – wat altyd die beste eerste wil hê. Geestelik is dit ook so. Ons loop ook geestelik die gevaar om bederf te wees en selfs vol fiemies te wees. Dit beteken ons wil net uit God se hand ontvang wat goed en lekker en o.i. vir ons voordelig is. Is dit nie egter ook so dat die Here ons dikwels juis laat groei en slyp deur seer en die meer onaangename nie? Deel met mekaar hoe dinge in jou lewe – wat jy soos van ‘kool’ of spinasie dalk glad nie van gehou het nie, jou tog geestelik gevorm en geslyp het. Loof dan die Here vir ‘n gebalanseerde geestelike dieet en onderneem om uit sy hand te ontvang wat Hy vir jou gee!
6. Fokus op wat God doen – wat beteken dit dat Jesus sy “heerlikheid daardeur laat blyk het”? Gesels ook oor wat God doen in en deur die nagmaal.

7. Antwoord met jou lewe – Jesus se dissipels het geantwoord met geloof en gehoorsaamheid. Waarmee gaan jy antwoord?

8. Kom ons bid - Loof die Here dat Hy ons voed met die Brood van die Lewe – sy Woord, maar ook vir elke dag se versorging. Vra Hom om ons te leer om dit wat Hy vir ons gee of oor ons pad bring, dankbaar te aanvaar en te waardeer, in die wete dat Hy die beste weet.

  • Bid vir die mense in die gebedsbrief of waarvan jy weet wat siek of hartseer is.
  • Dank die Here dat ons as sy huisgesin Sondag saam nagmaal kon vier.
  • Bid vir die groep kinders Juan Bouwer, Juan Burger, Neville Deetlefs, Jana Gerber, Shirene Gernandt, Samantha Kelly, Dané Kleynhans, Dané Laubsher, Dian Marais, Jaco Mostert, Brent Schutte, Tian van Staden, Leandrè van Zyl en Corné Waldeck wat die EE Internasionaal se Hoop vir Kinders verlede jaar suksesvol deurloop het en die hoop wat ons Here Jesus Christus aan ons gee met ander gaan deel!
  • Bid ook vir die Belydenisgroep wat verlede maand belydenis afgelê het en vandag hulle eerste nagmaal saam met ons vier:  Mirisa Badenhorst, Zander Ferreira, Charin Kruger, Erik Louwrens, Charlene Oosthuizen, Jaco Pienaar, Armand Riley, Ingrid Swart, Lollie (Laurette)  Truter en Robert van der Merwe. Mag die Here ook sy koninkryk in en deur hulle laat kom!